Foto van die week: Die dorp, die boom en die sonsondergang
Edwin Reichel, wat nou al sowat 30 jaar in die dorp woon, het een laatmiddag in Julie gevoel dat hy moes stop om 'n pragtige sonsondergang en die silhoeët van 'n bloekomboom sonder sy blare af te neem.
Edwin Reichel, wat nou al sowat 30 jaar in die dorp woon, het een laatmiddag in Julie gevoel dat hy moes stop om ‘n pragtige sonsondergang en die silhoeët van ‘n bloekomboom sonder sy blare af te neem.
“Ek het dit geneem vanaf die Engen-vulstasie in Paardekraalweg, natuurlik in ‘n westelike rigting teen die ondergaande son met die President-inkopiesentrum in die agtergrond,” het Edwin verduidelik.
Aan alle ontluikende fotograwe: Neem daardie foto nou! Môre is dalk te laat. Die boom is kort daarna afgekap. Dooie bloekombome het al in ons omgewing omgewaai met gepaardgaande skade en selfs lewensverlies. Jy sal dié foto nooit weer kan neem nie.”
Vereistes vir foto-inskrywings:
• Dit moet van ‘n hoë gehalte wees. Indien dit met ‘n selfoon geneem word, moet dit van dieselfde gehalte as dié van ‘n kamerafoto wees.
• Die lêer moet groter as 1MB wees.
• Die resolusie moet minstens 72dpi wees.
• Indien daar aan hierdie vereistes voldoen word, maar die gehalte van die foto is nie hoog genoeg om gedruk te word nie, sal die foto nie aanvaar word nie. Een so ‘n voorbeeld is ‘n foto wat in die donker sonder voldoende beligting geneem is.
• Die foto moet die persoon wat dit instuur, se eie intellektuele eiendom wees en nie aan iemand anders behoort nie.
• Die onderwerp van die foto moet interessant wees, of die foto moet op ‘n interessante manier geneem word.
• Die foto moet in die Mogale City-omgewing geneem word, of die fotograaf moet daar woon om in aanmerking te kom.
• Die fotospesifikasies soos ISO en sluiterspoed kan genoem word.
• ‘n Voor- en na-redigeringweergawe van die foto kan ingestuur word, wat moontlik langs mekaar gepubliseer kan word.
Bykomende vereistes:
• Gee die foto ‘n opskrif of ‘n titel.
• Gee ‘n byskrif waarin die onderwerp van die foto beskryf word.
• Noem die fotograaf se naam en van.
• Noem wanneer die foto geneem is.
• Noem die omgewing waar die foto geneem is (byvoorbeeld Noordheuwel).
Stuur foto’s as ‘n eposaanhegsel na jacoh@caxton.co.za. Foto’s wat in die Roodepoort-omgewing geneem is, kan moontlik in ons susterpublikasies Roodepoort Record of Roodepoort Northsider gepubliseer word.
