MunicipalNews

Ontmoet jou VF+ kandidate

Om ons gemeenskap toe te laat om 'n ingeligte besluit te neem wanneer hulle op 1 November gaan stem nooi die News alle kandidate van enige party uit om hulself bekend te stel.

Met die verkiesing om die draai wil die News graag die potensiële raadslede aan die gemeenskap bekend stel. Om ons gemeenskap toe te laat om ‘n ingeligte besluit te neem wanneer hulle op 1 November gaan stem nooi die News alle kandidate van enige party uit om hulself bekend te stel. Kontak gerus vir Natasha Pretorius by natashap@caxton.co.za of Jaco Human by jacoh@caxton.co.za vir meer inligting. Dieselfde vrae word aan elke raadslid gerig.

Annamarie Steyn (Amy) van die Vryheidsfront Plus.

Amy Steyn van die Vryheidsfront Plus. Foto: verskaf.

Amy is 46-jaar oud en is ‘n kandidaat vir Wyk 17 wat ‘n gedeelte van Krugersdorp-Noord, Rant-en-Dal en Dan Pienaarville insluit.

Wat sal jy anders doen as jou voorganger?
Dit is belangrik om diensleweringsprobleme vinnig te identifiseer en ‘n aksieplan op te stel om die probleme op te los om te verhoed dat dit weer in die toekoms gebeur. Die VF Plus glo aan ‘n openbare deelname-proses en die noodsaak om inwoners te raadpleeg om die beste moontlike oplossings vir daardie spesifieke gemeenskap te vind. Wedersydse kommunikasie tussen ‘n verkose raadslid en die gemeenskap wat hy of sy dien, is vir my baie belangrik.

Indien jy verkies word, op watter aangeleenthede sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Ek sal my toespits op volhoubare dienslewering, openbare deelname-prosesse en gemeenskapsontwikkeling om so ‘n veilige en skoon omgewing te help skep vir almal wat daar woon en werk.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Die welstand van inwoners in die omgewing waar ek woon is van kardinale belang. Belastingbetalers moet die dienste ontvang waarvoor hulle ten duurste betaal. Ek beywer my ook om die gemeenskap te motiveer om hul demokratiese regte uit te oefen en deel te neem aan openbare deelname-prosesse om so munisipale besluitneming wat hulle raak te beïnvloed. Ons kan nie langer op die kantlyn staan en toekyk hoe dienslewering en infrastruktuur in Krugersdorp verval nie.

Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid, op welke ander maniere is jy betrokke in jou gemeenskap?
Ek is sedert 2016 by nieregerings- en plaaslike gemeenskapsorganisasies aan die Wes-Rand betrokke waar ek onverpoos werk om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.

Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Ek het ondervinding in verskeie aspekte van industriële besigheid, asook menslike hulpbronne en algemene bestuur wat my goed in my rol as raadslid te pas sal kom.

Angie van den Berg van die Vryheidsfront Plus.

Angie is 43-jaar oud en is ‘n kandidaat vir Wyk 20 wat Quelleriepark, ‘n gedeelte van Krugersdorp-Noord en Krugersdorp-Sentraal insluit.

Wat sal jy anders doen as jou voorganger?
Ek sal meer proaktief in my wyk en die gemeenskap wees. My strewe is om die huidige probleme so vinnig moontlik op te los met die hulp van alle rolspelers, en moontlike toekomstige probleme te identifiseer om dit te verhoed. Dit is ook vir my baie belangrik om ‘n verhouding te bou met die gemeenskap om meer mense betrokke te kry en dienslewering te verbeter. Ek wil graag deel wees van die oplossing om Krugersdorp tot sy eertydse glorie te herstel en weer aanloklik te maak vir beleggers.

Indien jy verkies word, op watter aangeleenthede sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Baie van my vorige antwoorde sluit hierby aan, maar my groot fokus sal wees om moontlike probleme te identifiseer voordat dit kop uitsteek en op te los. Ek sal ook die gemeenskap betrek by skoonmaak-aksies en buurtwagte om van Wyk 20 ‘n voorbeeld vir ander wyke te maak wat betref netheid en veiligheid.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Ek wil graag hê die gemeenskap moet weet dat ek hulle wil dien omrede ek ook al deel was van ‘n gemeenskap waarvoor niemand omgegee het nie. Ek is soos die res van Krugersdorp se inwoners uitgelewer aan swak dienslewering en wil ‘n daadwerklike bydrae maak om die situasie om te keer. My doelwit is om nie maar net nog ‘n raadslid te wees nie, maar om mense te wys dat ek my sout werd is en nie ‘n saak of probleem sal aanpak sonder om dit te voltooi nie.

Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid op welke ander maniere is jy betrokke in jou gemeenskap?
Ek het so ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede by die AfriForum-buurtwag aangesluit en dit so geniet dat ek aan die voorsitter van AfriForum-Krugersdorp voorgestel het om ‘n bemarkingspan te stig. Ek het die groen lig daarvoor ontvang en die bemarkingspan bestaan tans uit 14 lede.

Ek is tans ook AfriForum-Krugersdorp se taksekretaresse en dien op sy uitvoerende komitee. Ek geniet dit om betrokke te wees by al die skoonmaak- en grassnyaksies, fondsinsameling en ander projekte om die gemeenskap se omstandighede te verbeter.

Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Ek beskou myself as ‘n mense-mens en om ‘n verskil in iemand se lewe te maak, is vir my die grootste beloning. As ek besluit het om iets aan te pak, sal ek dit deurvoer kom wat wil.

Ek is ‘n goeie kommunikeerder, maar nog belangriker ‘n goeie luisteraar en beskik ook oor baie goeie organisatoriese vaardighede. Orde is vir my baie belangrik en volgens my ‘n goeie eienskap waaroor ‘n raadslid moet beskik.

Marie Badenhorst van die Vryheidsfront Plus.

Marie Badenhorst van die Vryheidsfront Plus. Foto: verskaf.

Marie is 42-jaar oud en is ‘n kandidaat vir Wyk 37 wat gedeeltes van Wentworthpark asook Monument en Noordheuwel insluit.

Wat sal jy anders doen as jou voorganger?
Munisipaliteite verval en daarom is dit belangrik vir inwoners om leiers en besluitnemer verantwoordbaar te hou vir diensleweringsprobleme. Kommunikasie met die gemeenskap is vir my baie belangrik om so toe te sien dat hulle die dienste ontvang wat hulle benodig en ten duurste voor betaal.

Indien jy gekies word, op wat sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Die infrastruktuur is reeds gevestig en die mense se belange lê juis by hul beleggings in die omgewing. My doelwit sal wees om te verseker dat die infrastruktuur in stand gehou en vervang word voordat dit ten gronde gaan om sodoende ekonomiese groei te bevorder en die waarde van inwoners se beleggings te beskerm.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Ek het ‘n absolute passie vir die uitbou van die inwoners se regte en belange, en dat daar gehoor gegee word aan die behoeftes van die gemeenskap. Dit is vir my baie belangrik dat die Mogale City-munisipaliteit die stem van die gemeenskap hoor en ag gee daarop. Ek is ‘n praktiserende prokureur en het die nodige regsagtergrond om uitvoering aan hierdie doelwit te gee.

Lourens Johannes Gouws van die Vryheidsfront Plus.

Lourens Gouws van die Vryheidsfront Plus. Foto: verskaf.

Lourens is 39-jaar oud en is ‘n kandidaat vir Wyk wat Kenmare, ‘n gedeelte van Silverfields en Breaunanda insluit.

Wat sal jy as raadslid anders doen as jou voorganger?
Ek is ‘n VF Plus-kandidaat en beywer my vir die belange van die gemeenskap en om diensleweringsprobleme spoedig op te los. Die Mogale City-munisipaliteit het ‘n verantwoordelikheid teenoor belastingbetalers om toe te sien dat funksies en verantwoordelikhede behoorlik uitgevoer word. Dit sluit in elektrisiteitsvoorsiening, water, riool en sanitasie, stormwater, vullisverwydering, gesondheidsdienste en paaie. Die VF Plus sal toesien dat die burgemeester en munisipale bestuurder verantwoordbaar gehou word indien hierdie basiese dienste nie aan belastingbetalers gelewer word nie.

Indien jy gekies word, op wat sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) wat die munisipaliteit se hoof strategiese beplanningsdokument is, moet volledig uitgevoer word tot voordeel van inwoners van Silverfields, Kenmare en Breaunanda. Die uitvoering van die GOP wat gegrond is op die behoeftes en prioriteite van die gemeenskap wat hulle self geïdentifiseer het, is uiters belangrik. As raadslid sal ek druk op die raad plaas om te verseker dat Wyk 18 die dienste ontvang waarvoor hulle betaal.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Ek glo aan samewerking tussen die raad en die gemeenskap en daarom is terugvoering oor raadsake belangrik. Gereelde terugvoer oor ontwikkelings, ordonnansies, die finansiële stand van die munisipaliteit en ander sake kan by gemeenskapsforums, wykskomiteevergaderings en via sosiale media aan inwoners bekendgemaak word. Inwoners het tydens die interaksie die geleentheid om hul probleme te bespreek wat dan weer in die raadsaal ingedra sal word.

Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid hoe het jy op ander maniere in die gemeenskap betrokke geraak?
Ek is aktief betrokke by die Luipaardsvlei-ouetehuis, Tower of Life en ander gemeenskappe om hulle met diensleweringsprobleme te help.

Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Ek woon vir die afgelope 30 jaar in Wyk 18 waar ek verskeie ondernemings bedryf. Weens my betrokkenheid by die ondernemings is ek daagliks in aanraking met die inwoners wat hul diensleweringsprobleme met my deel. Ek is ook aktief by die gemeenskapspolisiëringsforum betrokke. As eggenoot en pa is dit vir my belangrik om ‘n verskil in die samelewing te maak om so vir hulle ‘n toekoms te help skep waar hulle met gemak kan leef en werk.

VRYWARING: Caxton Local Media is altyd objektief. Wanneer daar oor politici of politieke partye berig word, behoort die redelike leser te kan aflei dat dit die siening is van die persoon of persone met wie die onderhoud gevoer is, en nie dié van die pubikasie wat die onderhoud gevoer het nie.
Indien ‘n redakteur sou glo dat daar twyfel hieroor kan ontstaan, sal die volgende vrywaring by die artikel geplaas word:
“Die standpunte wat in hierdie verslag gestel word, is dié van die persoon of persone met wie die onderhoud gevoer is, en nie dié van die pubikasie nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button