Baba skielik oorlede: Honeyfield help om baba ter ruste te lê
Klein Jamey-Lee was maar net drie weke oud toe sy skielik oorlede is. Die Honeyfield Charity het die familie gehelp om die klein dogtertjie op 'n gepaste wyse ter ruste te lê.
Toe ‘n jong paartjie onlangs nie die finansies gehad het om hul baba te begrawe nie het die Honeyfield Charity ingespring om te help.
Klein Jamey-Lee de Jager was maar net drie weke oud toe sy siek geword het. Ann Bezuidenhout van Honeyfield Charity het verduidelik dat toe haar ma, Jessica Nelson met haar by die hospitaal aangekom het, het sy reeds opgehou asemhaal.
“Sy is weens natuurlike oorsake dood,” het Ann gesê.
Jessica wat af en toe kospakkies van die organisasie ontvang het, het toe vir Honeyfield Charity genader omdat hulle nie vir klein Jamey-Lee se begrafnis kon betaal nie. Ann en haar span het dadelik ingespring om te help.
Ons het kliënte genader om ons te help, en van die geld kom uit ons eie sak,” het Ann vertel.
Op 2 September is die klein lyfie op ‘n gepaste manier ter ruste gelê en Ann het vertel dat hulle baie dankbaar is vir al die bydraes van hul borge.
Sy bedank graag almal wat gehelp het, in besonder Rina Kruger van Concord Community Funeral Services.
“Sonder haar en haar span sou ons dit nie kon doen nie.”
Indien jy graag by hierdie organisasie wil betrokke raak en hulle ondersteun om nog mense in die gemeenskap te kan help, kan jy gerus vir Ann skakel by 082 378 1395.

