Nog ‘n Krugersdorp-musiekgroep om op trots te wees
Plaaslike musiekgroep Die Hede het onlangs hul vyfde liedjie aanlyn vrygestel en gesels oor hoekom hulle besluit het om dit so te skryf.
Die Hede is ‘n plaaslike musiekgroep met ambisies wat verder strek as net vandag of môre.
Dié musiekgroep met vier lede het tans vyf enkelsnitte beskikbaar op verskeie aanlynplatforms, maar is hard aan die werk om hul repertorium uit te brei terwyl hulle op verskeie plekke in die land ioptree.
“Ons naam sinspeel daarop dat mens vir die ‘nou’ moet leef en minder op die verlede en op die toekoms moet fokus,” het Ruan du Preez verduidelik.
Sedert hul ontstaan in 2019 is Ruan die sanger en ritmekitaarspeler in die groep. Die hoofkitaarspeler en ander sanger is Kyle Cilliers, die baskitaarspeler is Tiaan Burger, en PG Eksteen is die tromspeler.
“PG het die musiekgroep gestig omdat hy ‘n liedjie in gedagte gehad het. Hy het ons ander gevra om hom te help om sy idee ‘n realiteit te maak. Soos hulle sê, die res is geskiedenis.”

Die video van hul jongste liedjie, Wees Môre Hier is op Saterdag, 11 September op hul YouTube-blad Die_Hede_Official vrygestel, en daar kan gratis daarna en hul ander liedjies Vrede, Ballade, Waar Is Almal en Liewe Brein gekyk en geluister word.
“Die doel van die liedjie was om die gehoor te skok deur kontroversiële beelde, lirieke en kleure te gebruik om die donker realiteit van geestesversteurings uit te beeld, maar tog te wys dat ons hier is vir ‘n rede. Daar is hoop en dat ons môre hier moet wees. Die lied en video is reeds vrygestel tydens Selfmoordvoorkomingsmaand,” het Ruan verduidelik.

Die Hede doen tans hul eie ding en geniet die vryheid wat gepaard gaan saam met onafhanklik musiek maak en hul eie musiekvideo’s skiet.
PG het gesê, “Dit maak nie saak wat gebeur nie, jy lewe, jy haal asem en jy word elke oggend wakker vir ‘n rede. Jy’s vir ‘n rede op Aarde geplaas. Maak net seker jy is môre hier!”

“Die laaste twee jaar was op die een of ander manier moeilik vir almal. Ons het self deur baie moeilike tye gegaan. Moet nooit huiwer om vir hulp te vra nie. Jy is nie alleen nie en mense het jou lief. Lewe in die hede!” het Ruan laastens bygevoeg.

