Local newsNews

Zumba-dansklasse om kinders met kanker te help

'n Groep vroue het onlangs litte losgemaak en hulself fiks gedans alles ten bate van kinderkankerlyers.

Nadat Nadine van Staden die titel van Mev Krugersdorp in 2020 verower het, help sy nog eenstryk deur.

Sy het onlangs juis haar hart oopgemaak vir Arms of Mercy.

Nadine het vertel dat sy in Junie deelgeneem het aan die Arms of Mercy-skoonheidskompetisie om hulle te help met fondsinsameling. Sy is as eerste prinses gekroon en skaars ‘n week later het hulle haar genader om ‘n ambassadeur vir die organisasie te wees.

Nadine van Staden en haar dogter Danika. Foto: Natasha Pretorius.

Arms of Mercy is in 2017 gestig. Hulle samel geld in om kinders met kanker, skaars siektes en spesiale behoeftes te help om hul mediese kostes te betaal.

Die geld wat ingesamel word, word gebruik vir operasies, mediese rekeninge of spesiale behandeling wat soms nie eers in Suid-Afrika beskikbaar is nie. In Julie vanjaar het die organisasie besef dat die nood in Suid-Afrika net te groot is en besluit om ook volwassenes te begin help.

Kate Moult en Debbie Coulter was reg vir die uitdaging. Foto: Natasha Pretorius.

Een van die maniere waarop hulle fondse bymekaar maak is deur armbande te verkoop. Dit is ook hoe Nadine die eerste keer van hulle te hore gekom het.

“Ek het van Arms of Mercy gehoor toe my skoonma vir my ‘n armband gekoop het om ‘n vriendin wat teen kanker veg, te ondersteun. Ek het toe hulle sosiale media-blad gaan volg asook die werk wat hulle doen.”

Sy het vertel dat sy sommer dadelik ja gesê het toe hulle haar vra om ‘n ambassadeur te wees.

Op Saterdag, 18 September het sy twee Zumba-dansklasse by die Khosa Sportklub met die tema ‘All that glitters is gold’ aangebied. Daar het 21 vroue vir die 09:00-sessie opgedaag en 16 vroue vir die 11:00-sessie, en hulle het hulself fiks gedans.

Nadine het vertel dat Arms of Mercy al die ondersteuning nodig het wat hulle kan kry sodat hulle kan aanhou om kinders en volwassenes te help.

Azalea Hood het ook kom dans vir kanker. Foto: Natasha Pretorius.

Die organisasie help tans 96 kinders, en die publiek kan help deur ‘n armband te koop.

Elke kind het ‘n individuele armband en as jy daardie armband koop, gaan jou ondersteuning om daardie kind se mediese kostes te dek. Sonder julle donasies en ondersteuning sal ons nie kan doen wat ons doen nie.”

Maar die skoonheidskoningin is nog ver van klaar af en beplan reeds haar volgende liefdadigheidsaksie vir Oktober. Hierdie keer wil sy bewusmaking oor borskanker skep.

Jy kan betrokke raak by Arms of Mercy deur hul sosiale media-blad te volg en met ander te deel, armbande ens te koop, kontant te skenk of net hul fondsinsamelingsgeleenthede by te woon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button