[BRIEF] Raadslid distansieer haar van Openbare Veiligheid se vernietigingswerk
'Die vernietiging van eiendom is totaal onaanvaarbaar en ek distansieer my daarvan in die sterkste moontlik terme.'
• Trudie Naudé, raadslid vir Wyk 38 skryf:
Aangaande die artikel op die voorblad van die News van 1 Oktober met opskrif “Alles is daarmee heen” die volgende.
Na aanleiding van die artikel het ek verskeie oproepe ontvang van ontstoke inwoners wat my beskuldig dat ek verantwoordelik sou wees vir die gebeure soos geplaas in die koerantberig.
Lees artikel hier: WATCH: Homeless lose everything when Public Safety pays them a visit
Ek wil enige aantyging wat so iets suggereer ten sterkste ontken en met die minagting verwerp wat dit verdien. As raadslid van die wyk het ek, na vele versoeke, die Departement van Openbare Veiligheid versoek om die plakkersituasie te ondersoek ingevolge die verordeninge van die Munisipaliteit. Die verbranding en vernietiging van eiendom is nooit versoek, nie aangevra of beveel nie.
Dit is ook nie deel van die verordeninge nie en mag nie gedoen word nie. Wie ook al verantwoordelik is daarvoor moet hierop antwoord. Ek is bekend in die wyk vir die opheffingswerk, versorging en maatskaplike werk wat ek onder die inwoners doen.
Lees ook: [BRIEF] Berig op voorblad breek my hart
Dit word al vir meer as 25 jaar deur my gedoen en ek het ook in my termyn as DA-raadslid bewys dat ek omgee en versorgend omsien na die belang van die inwoners.
Die vernietiging van eiendom is totaal onaanvaarbaar en ek distansieer my daarvan in die sterkste moontlik terme. Wees verseker dat die inwoners van Wyk 38 my baie na aan die hart lê, en dat hulle welsyn en beste belange altyd my voorkeur geniet. Om hierdie rede het ek my weer verkiesbaar gestel sodat ek kan voortgaan met die werk wat my so na aan die hart lê.
