MunicipalNews

Leer jou VF+ kandidaatraadslede ken

Met die verkiesing om die draai wil die News graag die potensiële raadslede aan die gemeenskap bekend stel.

VF+ se Danie Toerien glo in dienslewering vir elke inwoner 

Die 53-jarige Danie Toerien is die Vryheidsfront Plus se kandidaatraadslid vir Wyk 28 wat gedeeltes van Rand-en-Dal en Dan Pienaarville insluit.

Wat sal jy anders doen as jou voorganger?
Dienslewering in ‘n sukkelende munisipaliteit is uitdagend, maar kan suksesvol deurgevoer word met volgehoue druk op die munisipaliteit. Die VF Plus glo in dienslewering en elke inwoner moet die diens ontvang waarvoor hy betaal.

Indien jy verkies word op watter aangeleenthede sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Die ontwikkeling en vooruitgang van Krugersdorp en omgewing is belangrik en daarom moet die behoeftes en prioriteite wat deur inwoners geïdentifiseer is in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) uiteengesit word. Die uitvoering daarvan is belangrik en die party sal deur middel van vergaderings en sosiale media terugvoering aan die gemeenskap gee. Die party sal die burgemeester van Krugersdorp verantwoordbaar hou vir ongerymdhede en korrupsie.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Die VF Plus glo in die heffing van billike munisipale belastings en wil ‘n gunstige omgewing skep vir elkeen wat in Krugersdorp woon en werk. Die party ondersteun die privaatsektor en sal help om deur wetgewing en ordonnansies ekonomiese groei te stimuleer en volhoubare werksgeleenthede te verseker. Inwoners verdien ‘n dorp sonder slaggate, elektrisiteitprobleme, misdaad, stukkende infrastruktuur en meer (probleme).

Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid op welke ander maniere is jy betrokke in jou gemeenskap?
Ek is betrokke by verskeie welsynsorganisasies asook sakenetwerke om nie net inwoners van hulp te wees nie, maar ook die sakesektor. As besigheidsman in Krugersdorp is dit belangrik om deel te wees van ‘n gemeenskap en so ander in nood te help.

Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
As jarelange joernalis het ek redelike ondervinding in raadsale opgedoen. Dit is hier waar ek die waardes en beleidsrigting van die onderskeie politieke partye leer ken het en so die VF Plus as die enigste politieke voertuig kon uitsonder wie se morele waardes onberispelik is. Hulle is ook daagliks besig om op elke platform te veg vir die regte van mense. My finansiële agtergrond is ‘n pluspunt om die munisipaliteit tot verantwoording te bring, te sorg dat hulle ingeligte besluite neem en dat dienslewering ‘n prioriteit is.

Bekende VF+ raadslid Hetta Kruger is reg om dit weer te doen 

Hetta Kruger is 70-jaar oud en is die Vryheidsfront Plus se kandidaatraadslid vir Wyk 22 wat gedeeltes van Noordheuwel en Rangeview insluit.

Hetta Kruger. Foto ingestuur.

Wat het jy in jou wyk gedoen tydens jou termyn as raadslid?
Met die aanvang van my termyn as VF Plus-raadslid in 2019 het ek gou agtergekom daar is ‘n groot leemte in Mogale City se finansiële stelsel wanneer dit kom by koop en verkoop van eiendomme. Ek is in ‘n gevorderde stadium om hierdie probleem saam met Mogale City se administratiewe personeel op te los.

Indien jy gekies word op wat sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Een van my passies is om bejaardes wat munisipale probleme ondervind, te help. Dit is nie altyd maklik vir bejaardes om met veranderings tred te hou nie, veral rondom finansiële sake. Ek het reeds baie kiesers hiermee gehelp en sal nie huiwer om in my nuwe termyn die werk voort te sit nie. Ek is vir jare by die Luipaardsvlei tehuis vir bejaardes betrokke waar ek inwoners help om as kiesers te registreer en te reël vir die uitbring van spesiale stemme.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Ek het uitgebreide kennis van die werking van ‘n munisipaliteit asook die behoeftes van die inwoners van Krugersdorp. Ek het hier grootgeword en woon in Rangeview.

Dienslewering is belangrik asook interaksie met die gemeenskap. Die inwoners van Mogale City moet die dienste ontvang waarvoor hulle betaal en daarom is ek elke dag betrokke by die oplos van diensleweringsprobleme soos die herstel van straatligte, waterlekkasies, rioolstortings, slaggate en foutiewe munisipale rekenings. Dit is ook belangrik om amptenare verantwoordbaar te hou vir enige ongerymdhede en korrupsie. Die VF Plus glo in billike belastings en tariewe en het nog altyd sy teenstem uitgebring teen onbillike verhogings.

Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid hoe het jy op ander maniere in die gemeenskap betrokke geraak?
Ek is betrokke by liefdadigheidsprojekte en het veral ‘n baie sagte plekkie vir bejaardes wat ek gereeld bystaan met raad en daad.

Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Ek is reeds ses jaar ‘n raadslid in Mogale City waar ek die gemeenskap dien. Ek het ook finansiële agtergrond wat handig te pas kom in raadsake. Daarbenewens het ek in Krugersdorp grootgeword en hier my skoolopleiding voltooi. Probleemoplossing is vir my ‘n passie en daarom sal ek nie huiwer om die burgemeester en munisipale bestuurder tot verantwoording te roep nie, selfs met strafregtelike klagte, wanneer inwoners nie die dienste ontvang waarvoor hulle ten duurste betaal nie.

VF+ is standvastig sê kandidaat Tjaart Steenkamp 

Die 54-jarige Tjaart Steenkamp is die Vryheidsfront Plus se kandidaatraadslid vir Wyk 21 wat Noordheuwel insluit.

Tjaart Steenkamp. Foto ingestuur.

Wat het jy in jou wyk gedoen tydens jou termyn as raadslid?
Ek is tans ‘n VF Plus proporsionele raadslid in die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit wat beteken ek is nie aan een wyk verbonde nie en het daarom die geleentheid om almal wat hier woon en werk van hulp te wees. Diensleweringsprobleme vermeerder daagliks, maar die VF Plus is hier om te bly en almal van diens te wees. Die party sal nooit hul druk op die munisipaliteit laat vaar om te sorg dat belastingbetalers die dienste ontvang waarvoor hulle betaal nie. Behalwe vir die oplos van diensleweringsprobleme, was ek ook betrokke by die stop van verskeie grondbesettings, het klagte ingedien by die Groen Skerpioene oor rioolstortings, en was betrokke om die onwettige Brickvale-behuisingsontwikkeling in Tarlton te stop.

Indien jy verkies word op watter aangeleenthede sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Die oplos van diensleweringsprobleme is uiters belangrik. Die VF Plus werk onverpoos om probleme op te los in ‘n wankelrige munisipaliteit waar daar ‘n tekort is aan tegniese personeel, voertuie en toerusting. Dit sal ons egter nie stop nie en die party sal onverskrokke sy taak voortsit om wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid te beveg. Die VF Plus sal ook alles in sy vermoë doen om die dorpe wat deur die Mogale City-munisipaliteit bedien word, tot hul eertydse glorie te herstel. Die Wêrelderfenisgebied, Die Wieg van die Mensdom, is onder meer in die munisipaliteit geleë en is ‘n groot toeriste-aantreklikheid en daarom is effektiewe dienslewering en ‘n goed bestuurde munisipaliteit nodig om toeriste weer aan te moedig om die gebied te besoek.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Die VF Plus is standvastig in sy beleid en het nog nooit daarvan afgewyk nie. Daarom is dit belangrik om amptenare aan te stel wat die beste persoon vir die werk is, ongeag velkleur. Die heffing van billike belastings en tariewe is noodsaaklik, asook die skep van ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor om ekonomiese groei te stimuleer en volhoubare werksgeleenthede te verseker – veral deur die skep van vryhandelsones. Die inwoners van Krugersdorp verdien beter. Hulle verdien paaie sonder slaggate, skoon en netjiese sypaadjies, ‘n werkende infrastruktuur, sportgeriewe, groeiende sake- en winkelsentrums, en woongebiede wat misdaadvry is.

Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Ek is 15 jaar ‘n Krugersdorp-raadslid en sakeman wat die gemeenskap op verskeie maniere dien. Ek is vertroud met die werksaamhede van die stadsraad en die behoeftes van die gemeenskap, en daarom kan en wil ek ‘n verskil in die lewens van mense maak.

Nuwe VF+ kandidaatraadslid Theuns Schoeman wil voortuitgang hê 

Die 67-jarige Theuns Schoeman is die Vryheidsfront Plus se kandidaat om die raadslid van Wyk 16 te word wat Lewisham en Mindalore-Noord insluit.

Theuns Schoeman. Foto ingestuur.

Wat sal jy anders doen as jou voorganger?
Die munisipale infrastruktuur in Lewisham het dringend opgradering nodig. Die paaie se teeroppervlak is kommerwekkend, sypaadjies is onversorg, waterlekkasies kom gereeld voor, en straatligte wat nie werk nie, skep ‘n teelaarde vir misdaad. Ek sal daarop fokus om dienslewering in Wyk 16 aan te spreek en gedurende die opstel van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) sorg dat probleme daarin uiteengesit word. Dit is belangrik om gereeld met inwoners in gesprek te tree deur vergaderings of op sosiale media en om terugvoering van opgraderingsprojekte en die finansiële stand van die munisipaliteit oor te dra.

Indien jy gekies word op wat sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Die ontwikkeling van Mindalore en Lewisham is belangrik om vooruitgang in Krugersdorp te help bevorder. Juis hierom is dit belangrik dat ‘n minimum hoeveelheid belastinggeld teruggeploeg word in die gebiede waar belasting geïn word. Tans word belasting nie op ‘n sistematiese en geoormerkte wyse hanteer nie. Buitensporige eiendomsbelasting en tariewe verarm inwoners en daarom sal die VF Plus nie huiwer om op te staan teen onbillike tariefverhogings nie.

Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Mogale City is in ‘n krisis. Dienslewering is ontoereikend, infrastruktuur is vervalle, finansiële wanbestuur en korrupsie is aan die orde van die dag. Onbevoegde amptenare wat buitensporige salarisse verdien dra verder by dat belastinggeld nie aangewend word tot voordeel van die gemeenskap nie.

Die VF Plus glo aanstellings moet gegrond wees op meriete, ongeag velkleur en taal. Dit is belangrik dat tegniese personeel oor die nodige kennis en opleiding beskik om die werk suksesvol te verrig.

Die burgemeester en munisipale bestuurder moet verantwoordbaar gehou word vir ongerymdhede en korrupsie, en die VF Plus huiwer nie om dit te doen nie, selfs deur strafregtelike klagte.

Die gemeenskap van Mindalore en Lewisham verdien beter. Hulle verdien ‘n skoon omgewing sonder krag- en wateronderbrekings waar hulle veilig kan woon en werk.

Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid hoe het jy op ander maniere in die gemeenskap betrokke geraak?
Ek is aktief by kerkgemeenskappe betrokke waar ek elke dag probeer om ‘n verskil in mense se lewens te maak. Ek sal hierop voortbou en my raadsverpligtinge met net soveel ywer uitvoer.

Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Alhoewel ek nog nooit voorheen as raadslid gedien het nie is ek reeds vanaf ‘n vroeë ouderdom ‘n politieke aktivis. Weens my betrokkenheid by my gemeenskap is ek op hoogte van inwoners se behoeftes en die diensleweringsprobleme wat hulle ondervind. Ek glo ek sal met die ondersteuning van die inwoners van Mindalore en Lewisham vooruitgang vir almal kan bewerkstellig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button