Trudie Naudé, 70, Demokratiese Alliansie- (DA) kandidaat vir Wyk 38 wat Krugersdorp-Wes, Appelpark, Burgershoop, Quellerie Park, Agavia, Oatlands, Delporton en Wildtuin Park insluit het onlangs die News se vrae aangaande die komende plaaslike verkiesing beantwoord.
1. Wat het jy in jou wyk gedoen tydens jou termyn as raadslid?
Buiten al die liefdadigheidswerk wat ek gedoen het in Wyk 38 was ek betrokke by die herstel en instandhouding van die Krugersdorp-Wes swembad, instandhouding van strate, het straatligte in die aand aan die brand gehou, teer van paaie, slaggate minimaal gehou, en verskeie kere gehelp met waterlekke wat gereeld sy kop uitsteek in die area. Ek was betrokke en het seker gemaak dat meeste van die inwoners in Appelpark eienaarskap van hul huise kon kry. Ek het ook die eienaars bygestaan toe ons vloedskade gehad het. In die laaste vyf jaar wat ek die voorreg gehad het om as raadslid te dien, was my selfoon nog nooit af nie. Ek probeer altyd die gemeenskap bystaan op enige manier wat ek moontlik kan.
2. Indien jy verkies word op wat sal jy fokus in jou wyk en hoekom?
Ek sal graag wil fokus op die skoonmaak en skoon hou van die wyk. Onwettige storting is ‘n groot probleem in ons area. Die ouetehuise in Burgershoop moet gerestoureer word en in stand gehou word; die vele vervalle sportgeriewe in die wyk moet gerestoureer word sodat ons kinders meer aan sport kan deelneem; die Paul Kruger Saal sal tot sy vorige glorie gerestoureer moet word, en omdat werkloosheid ‘n groot probleem is sal ek wil fokus op verskeie werkskeppingsprojekte.
3. Hoekom moet die gemeenskap vir jou stem?
Ek is ‘n harde werker. Geen taak is ooit vir my te groot nie. Ek pak alles met vertroue en volharding aan. Ek is eerlik, betroubaar en sien myself as ‘n staatmaker in die gemeenskap.
4. Behalwe vir jou verpligtinge as raadslid hoe het jy op ander maniere in die gemeenskap betrokke geraak?
Ek’s gereeld betrokke by liefdadigheid. Onder andere reël ek gereeld uitstappies en kersbome vir minderbevoorregte kinders en oumense. Vir die winter het ek en ‘n groep vriendinne vir elke inwoner van Jack Cotton-, Pioneer- en President-ouetehuise ‘n kombers gehekel. Toe Covid-19 slaan het ek privaat donasies ingesamel en oor die 800 kospakkies vir die gemeenskap wat dit die nodigste gehad het uitgedeel.
5. Watter ondervinding het jy wat jou uniek geskik maak vir die rol as raadslid?
Ek werk in die laaste 25 jaar in die gemeenskap en glo dat ek die perfekte kandidaat sal wees om die mense van Wyk 38 by te staan met die dienslewering wat hulle verdien. Ek is en sal altyd beskikbaar wees om bystand te verleen waar ek moontlik kan.
Die munisipale verkiesing vind plaas op Maandag, 1 November.
Kandidaatraadslede wat hulself aan die publiek wil voorstel deur die News se Get to Know Your Candidate segment word gevra om die News voor Donderdag, 21 Oktober te skakel.
