Local newsNews

Hy vlieg om lewens te red

'Ons gaan haal mynwerkers, pasgebore babas, bejaardes en baie keer toeriste selfs buite die landsgrense.'

Verbeel jou vir ‘n oomblik jy staan môre-oggend op en die eerste vraag wat by jou opkom is, “Waarheen gaan ek vandag?”

Dit is hoe dit die meeste dae gaan met nooddiensvlieënier Brendan Boraine wat tans vir Guardian Air vlieg. Hulle spesialiseer in Part 138 Operations vanuit Lanseria Internasionale Lughawe.

“Ek weet byvoorbeeld nie of ek Upington of Kaïro toe gaan nie,” sê Brendan.

“Dit is die opwindende deel daarvan. Soms doen ek een vlug in vyf dae, of vyf vlugte in ‘n week. Jy weet nie wie gaan siek word, wanneer hulle gaan siek word en of hulle stabiel is nie.”

Brendan het sy beroepslewe in die korporatiewe wêreld as ‘n bankier begin en na 10 jaar besluit dat dit tyd was vir verandering.

“Voordat ek begin werk het, ek dink in 1997, het ek vir die eerste keer in ‘n klein vliegtuig gevlieg. Toe ons land het ek gesê, ‘Wow, I’m sold!’ Ek het voorheen nooit regtig blootstelling gehad aan lugvaart nie. Ek het in 1997 net ‘n privaatlisensie gedoen, in 2000 in die bankwese begin werk en in 2009 gesê ek gaan my pensioenfonds vat en gate deur die lug brand.”

Brendan het by ‘n nooddienslugdiens begin werk wat nie meer bestaan nie, maar sy huidige werkgewer, Guardian Air gebruik nou hul vliegtuig. “Ek het in 2010 begin, ‘n paar jaar in ops spandeer en toe die geleentheid gekry in ‘n King Air 350. Daarna het ek in my eerste klein straler geklim – ‘n Citation – toe ‘n Hawker 800 wat ek steeds gebruik. Ek het in 2012 voltyds begin vlieg.”

Vandag vlieg Brendan dikwels internasionaal om pasiënte van of na Suid-Afrika te vervoer.

“Ons gaan haal mynwerkers, pasgebore babas en bejaardes, maar baie keer toeriste. Gewoonlik, in die middel van die jaar, kom kyk die Amerikaners na die diere in Zambië of Zimbabwe, en word dikwels deur hulle aangeval. Ek het al ‘n man gaan haal wat deur ‘n renoster aangeval is. Ek’t ‘n paar jaar gelede ‘n Amerikaanse vrou gaan haal wie se femur deur ‘n kameelperd gebreek is.”

Brendan het verduidelik dat hulle soms pasiënte van ander lande Suid-Afrika toe bring omdat die mediese sorg in die meeste Afrika-lande en die omliggende eilande nie altyd toereikend is nie, of dat spesialissorg nie in daardie spesifieke land beskikbaar is nie.

Sy lewe is wel opwindend en Brendan het vele stories om te vertel. “Die eerste keer dat ek Port Harcourt in Nigerië toe gevlieg het, het ons nadat ons daar geland en met ‘n lang storie deur doeane gekom het, in ‘n voertuig geklim. Dis omtrent ‘n uur se ry na die hotel toe. Mense het al vir my gesê ‘never sit in the front seat, that’s the seat of death’, maar ek spring daar in die voorste sitplek, want ek wil mos sien hoe die plek lyk. Halfpad gaan staan die verkeer botstil weens ‘n versperring in die pad. Die een militante ou spring toe uit, vuur so vyf skote af, en hier maak die pad voor ons oop!”

Brendan het verduidelik dat die Hawker wat hy gebruik ‘n gewone besigheidstraler is waarvan die sitplekke uitgehaal en vervang is met twee noodbeddens en die nodige mediese toerusting. Vier van die groot sitplekke is daarna teruggeplaas. ‘n Dokter en paramedikus is saam met die twee vliegtuigbemanningslede aan boord. Addisionele toerusting word gelaai soos nodig, afhangend van die pasiënt wat hulle sal vervoer.

“Die laaste twee jaar het ons natuurlik baie Covid-19 pasiënte vervoer, partykeer twee of drie op ‘n slag. Die wonderlike ding van medi-vac vlieg is dat ons altyd voorkeurroetes ontvang. As ek byvoorbeeld oor die Botswana- of Mosambiek-grens vlieg en ek praat met Johannesburg-radar sê ek onmiddellik ek is Status Mercy, wat beteken ek het ‘n pasiënt aan boord en dat die kanse baie goed is dat hy kritiek is. Hulle laat dan die ander vliegtuie vir ‘n ruk sirkel sodat die noodvliegtuig eers kan land,” het Brendan verduidelik.

In hierdie stadium geniet hy die werksure omdat dit hom die geleentheid gee om meer gereeld tuis te wees, tyd saam met sy kinders te spandeer en terug te gee aan die gemeenskap soos deur sy lidmaatskap van die Rotariërs Klub in Krugersdorp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button