Suné en Rogeno se liefde kan nou behoorlik blom
'n Plaaslike paartjie het hul droomtroue gewen danksy twee plaaslike koffiewinkeleienaars en die gemeenskap se goedhartigheid.
Danksy die oorspronklike idees van twee koffiewinkeleienaars en die goedhartigheid van die Krugersdorp-gemeenskap kry ‘n plaaslike paartjie nou hul droomtroue – gratis!
Jaco Strydom en Jannie Joubert, die eienaars van die Infinity Tea Garden in Krugersdorp-Noord, het vertel dat hulle ‘n ruk gelede op sosiale media gesien het dat ‘n vrou matriekafskeidrokke vir meisies gee wat nie hul eie kon bekostig nie.
Daarna het ‘n vrou haar trourok aangebied en dit het die twee laat dink. Aanvanklik wou hulle hul koffiewinkel aanbied as troulokaal met verversings vir 20 gaste, maar dit het van daar af net groter geword.

Nadat hulle op sosiale media gevra het dat mense paartjies nomineer het die publiek sommer hulle hulp begin aanbied. Na hul tweede sosiale media-plasing het hulle rokke, pakke, grimering, fotograwe en selfs ‘n prokureur gehad wat die regsaspekte sal behartig.
Nou was dit net om die paartjie te kies, en die gelukkige wenners is die 27-jarige Suné Botha en haar toekomstige man, die 31-jarige Rogeno Human.
Suné het vir die News vertel dat hulle in Potchefstroom ontmoet het toe hulle albei by CTU studeer het en saam in ‘n klas was. Die twee is nog nie verloof nie maar sy het gesê dat Rogeno haar glo in Desember sou vra om te trou.
Haar ma het hulle ingeskryf vir die kompetisie en niemand het verwag dat hulle sou wen nie.
“Finansies het ons nie toegelaat om vroeër verloof te raak of te trou nie. Rogeno het nou laat val dat hy my in Desember wou vra, maar alles gaan so vinnig gebeur dat hy my nou gou sal moet vra voor die troue. Ek weet ongelukkig nie hoe en wanneer hy gaan vra nie, hy wil dit natuurlik as ‘n verrassing hou,” het sy laggend vertel.
Die paartjie sal in Desember reeds agt jaar saam wees, en geniet dit om tyd saam met hul familie en vriende te spandeer. Hulle speel ook graag bordspeletjies, en Suné het vertel dat hulle voor Covid-19 graag op uitstappies gegaan het.
“Ons was geskok toe ons uitvind ons het gewen en eers nadat ons vir Jannie en Jaco ontmoet het, het dit eers werklik ingesink. Ons is so opgewonde en gelukkig dat almal wat betrokke is dit nou vir ons moontlik maak om uiteindelik te kan trou. Ons sien baie uit na die groot dag!”
Sy het gesê dat dit elke meisie se droom is om haar troue te reël, en dat sy so baie idees het. Die feit dat sy dit nou ‘n werklikheid kan maak is ‘n wonderlike gevoel.
“Ons wil net graag aan al ons engele, familie en vriende wat ‘n bydrae maak om die troue moontlik te maak baie dankie sê. Ons sou dit nie sonder hulle kon doen nie,” het sy gesê.
Hier is ‘n lys van mense wat hulle borg:
• Hare – George Fowler van George Fowler Hair Boudoir & Gifts
• Koek – Bruce Fowler
• Naels – Chanel Basson van Beauty by Chanel
• Musiek – Kain Joubert van SyocoFunk
• Grimering – Veruschke Jansen van Rensburg van Verunè Make-up Artist
• Blomme en dekor – Linda Scheepers van Flora at Blossoms-Up
• Rok en pak – Heidi Bothma Du Toit van Hollywood Costumes
• Wittebrood – Elaine Pipes van Sunset Manor Gastehuis
• Troualbum – Retha van Grey van The Album Company Westrand
• Fotograaf – Leopoldt Jansen van Vuuren van Lumen Vitae Photography
• Prokureur – Jacques Botha van Durrheim Letley Attorney
