AfriForum maak sowat 4km se middelmanne skoon
As deel van die organisasie se Ons Dorp-projek is sowat 4km se middelmanne in Krugersdorp se strate skoongemaak.
Die AfriForum-tak in Krugersdorp het op Saterdag, 23 Oktober as deel van die organisasie se Ons Dorp-projek sowat 4km se middelmanne skoongemaak.
Die skoonmaakaksie het in Robert Broomweg afgeskop.
Vrywilligers het bossies uitgetrek, die gras om die kante gesny en gif gespuit. Verder het die vrywilligers ook die kruising van Voortrekkerweg en die R28 skoongemaak.
Volgens AfriForum se takvoorsitter in Krugersdorp, Martin Lombard het ‘n positiewe gees onder die vrywilligers geheers en gemeenskapslede het deur die loop van die dag by hulle stilgehou om dankie te sê vir dit wat AfriForum in die gemeenskap doen.
“Dit is hartseer dat ons munisipaliteite daarin misluk om basiese dienste aan ons te verskaf, en dat die regering nie hierdie munisipaliteite verantwoordelik hou vir hul mislukkings nie.
“Ek wil graag elke vrywilliger van AfriForum Krugersdorp bedank wat dit moontlik maak dat ons hierdie aksies suksesvol kan aanpak.”
