Vrou laat hare waai vir Cansa
Om haar ondersteuning vir kankerlyers te wys het Chantelle Foxcroft onlangs 45cm van haar hare afgesny en vir Cansa geskenk.
Kanker lê vir Chantelle Foxcroft baie na aan die hart.
Sy het juis onlangs gewys presies hoeveel sy omgee – deur haar lang hare te laat afsny en aan Cansa te skenk.
Die 26-jarige Chantelle het vertel dat sy 45cm laat afsny het nadat sy dit ses jaar lank laat groei het. Die gebaar was haar manier om ondersteuning te wys aan die mense om haar wat met kanker gediagnoseer is.

“Ek het ‘n baie sagte plek in my hart vir kankerpasiënte aangesien ek baie mense na aan my weens kanker verloor het. Ek kry ook steeds met kliënte te doen wat kanker het. Die proses is rou en seer, hulle verloor hul hare, word ingespuit, ondergaan operasies, kry bestraling … Ek weet nie presies hoe hulle voel en wat hulle deurmaak nie, ek wil net hê hulle moet weet ek dink gedurig aan hulle,” het sy gesê.
Chantelle het versoek dat mense wat ook hul lang lokke wil laat afsny dit asseblief sal oorweeg om dit vir Cansa te skenk.
