Inwoners vra heining om misdadigers uit te hou
Inwoners van Lewisham het onlangs 'n petisie geteken om 'n heining te laat oprig nadat misdaad toegeneem het.
Misdaad in Lewisham het daartoe gelei dat inwoners ‘n heining wil oprig om hulself te beskerm.
Een slagoffer van die misdadigers is Andries Letsapa wat tydens ‘n roofpoging doodgeskiet is.
Die News het met sy suster Victoria Letsapa, 53, gaan gesels oor die dag toe haar 46-jarige broer sy lewe verloor het toe hy haar probeer help het.
Sy het vertel dat sy die oggend van 18 Augustus winkel toe is en op pad terug eers by ‘n klein winkeltjie gestop het voordat sy om 16:45 huis toe is. Op die hoek van hul straat het twee mans haar begin volg.

Terwyl Victoria die slot van hul hoofhek oopgesluit het, het sy die mans opgemerk. Een van hulle het na haar by die hek ingeglip.
Sy het vertel dat sy agteruit begin hardloop het omdat sy nie haar rug op hom wou draai nie. ‘n Ander gewapende man het buite die erf gestaan.
Toe Victoria val, het die betreder op haar gespring en haar deursoek vir geld en ‘n selfoon. Sy het vir haar broer geskree om te kom help.
Andries het uit die huis gehardloop en Victoria se aanvaller het toe die pad gevat – min wetend dat die ander skurk reeds agter die muur reg staan met die vuurwapen toe Andries hom probeer agterna sit het.
“Toe hy sy lyf by die hek uitsteek het hulle hom geskiet,” het Victoria vertel
Andries is die pa van ses kinders en het daardie dag sy lewe onnodig verloor.
Hierdie voorval was ongelukkig nie die eerste een nie. Iemand anders wat ook op die erf bly se voertuig is ‘n paar weke gelede gesteel, en Victoria se suster is ook al aangehou en van haar geld en selfoon beroof.
Victoria het vir die News gesê dat sy deesdae te bang is om alleen winkel toe te stap.
Raadslid Edwina Mahne het verduidelik dat 189 inwoners ‘n petisie onderteken het om ‘n heining in die woonbuurt te laat oprig. Hulle wil hê End- en Polestraat moet afgesper word aan Surreystraat se kant omdat baie van die mense wat daar deur die veld loop ‘n gevaar vir die inwoners inhou.
Daar is ook beweer dat onwettinge myners in die veld woon en myn.
“Die gemeenskap is onder druk. Die mense wat deur die veld kom is ‘n risiko vir die inwoners,” het Edwina gesê.
Sy het bygevoeg dat iets soortgelyk by ‘n ander wyk in Krugersdorp gedoen is en op 27 Oktober is ‘n skrywe met die versoek aan die kantoor van die Mogale City Speaker oorhandig.
“Hoeveel mense moet nog doodgaan?” het sy gevra.
