Pro Masters-liggaamsboutitel behoort aan …
Bekende liggaamsbouer, Izak Groenewald, het onlangs die Pro Masters bo 60-titel by die Suid-Afrikaanse Liggaamsbou-kompetisie gewen.
Izak Groenewald het onlangs weer sy staal gewys toe die titel van Pro Masters bo 60 tydens die Suid-Afrikaanse Liggaamsbou-kampioenskappe aan hom toegeken is.
Hy het vertel dat hy in Junie reeds begin voorberei het vir die kompetisie wat op 17 Oktober by Emerald Casino aangebied is. Aan die einde van Augustus het hy aan die Fire and Ice-kompetisie deelgeneem en goud verwerf. Dit het hom outomaties laat kwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse Liggaamsbou-kampioenskappe.

Toe hy gevra is hoe hy gemotiveerd bly en al die harde werk insit, veral gedurende ‘n tydperk soos Covid-19, het Izak geantwoord, “Dit is relatief maklik – ek het dié keer tyd gehad om voor te berei. Daar was geen twyfel by my nie.”
Izak se oefenprogram het gewoonlik ses dae ‘n week so gelyk: Soggens het hy ‘n 45-minute kardiosessie gedoen en later vir ‘n uur en ‘n half geoefen. Hy en sy vrou Jacqueline weet ook al wat voorberei moet word vir die gespesifiseerde dieet wat Izak ter voorbereiding vir die kompetisie moet volg.
“En wanneer jy jou verskyning op die verhoog maak, moet jy so goed voorbereid wees dat ander ouens slegs oor die tweede en derde plekke wonder,” het hy laggend vertel.
Hy het egter bygevoeg dat sy prestasies net genade van Bo is.

Izak se kompetisies is vir dié jaar verby, en hy het vertel dat hy nou eers dinge ‘n bietjie rustig gaan vat. Hy het reeds alles moontlik in Suid-Afrika bereik, en het nou sy oë op ‘n wêreldtitel.
“Maar dit is volgende jaar se besluit,” het hy gesê.
Izak en Jacqueline het hul eie gimnasium waar hulle ander atlete help om voor te berei vir kompetisies.
“Ons is ingerig om mans en vroue in enige afdeling vir die verhoog voor te berei,” het hy vertel.
