Local newsNews

Karnaval en pret in Appelpark

Die kinders van Appelpark is onlangs vir die eerste keer in amper twee jaar weer bederf met 'n karnavaldag in die parkie.

Die gelag en geskree van gelukkige kinders het die strate van Appelpark gevul toe daar ‘n karnaval en pretdag vir hulle aangebied is.

Op Saterdag, 13 November het verskeie organisasies saamgespan om die karnavaldag vir die kinders in die parkie aan te bied.

Alberts Stein was ‘n tier vir die dag.

Dominee Jannie Pelser van Toekomsvenster het aan die News vertel dat hulle so ‘n paar jaar gelede besef het dat daar nie ‘n veilige plek was waar die kinders van Appelpark in Krugersdorp-Wes kan speel nie.

“In daardie stadium was die park in Jobstraat baie vuil, verwaarloos en ‘n plek waar boemelaars oornag het,” het Jannie vertel.

“Met die hulp van baie donateurs kon ons speelapparaat aanbring en die terrein omhein. Japie en Petro Minnie is aangestel as parkopsigters en doen uitstekende werk.”

Die park word daagliks deur talle kinders besoek. Op Sondae word daar eredienste gehou en op Saterdae word Sondagskool ook daar aangebied.

Elke jaar hou hulle een groot karnavaldag om die kinders te bederf, maar as gevolg van Covid-19 kon dit vir nagenoeg twee jaar nie gedoen word nie.

Dié een was ‘n reusesukses.

Andries van Dyk het heeldag die kinders op die treintjie laat ry.

Behalwe vir die springkastele en glybane was daar ook ‘n treintjie wat die kinders op ‘n pretrit gevat het, en die NG Gemeente Skeerpoort-mense het die kinders se gesiggies gehelp verf.

Phillip Schutte en sy span wat bestaan uit Rudie Cilliers, Estelle Opperman, Phillip Friggens en Sanet Willemse van die Heart And Soul Foundation het gesorg dat almal se mae vol was deur die dag met lekker eet- en drinkgoed.

Die ouers en kinders is vermaak met musiek deur Danie Willemse en sy span, en kulkunstenaar Cracy Colin het die kinders verstom met sy toertjies. Die plaaslike brandweer het ook ‘n draai kom maak en dit was volgens Jannie een van die hoogtepunte van die dag.

Louis Buitendag van die NG Gemeente Skeerpoort verf hartjies op ‘n dogtertjie se gesig.

Maar die pret het nie daar opgehou nie en die gedreun van motorfietse het sommer dadelik almal se aandag getrek. Tydens die reptielvertoning kon die kinders die verskillende diere van nader bekyk en streel. Die Barbarians for Christ het vir die kinders kragtoertjies uitgevoer en ook ‘n mooi getuienis gedeel van wat Jesus vir hulle beteken.

Die dag is met middagete en ‘n geskenkpakkie vir elkeen afgesluit, en die moeë kinders kon herinneringe van ‘n wonderlike dag huis toe neem.

Jannie bedank graag elke persoon wat gehelp het en hul tyd opgeoffer het om die dag so spesiaal te maak, onder andere die Rant en Dal Prisma-gemeente.

“Dit is eerdaags Kersfees en geskenkies, bederfpakkies asook sporttoerusting sal die vakansie wat voorlê vir die kinders baie spesiaal maak.”

Jannie kan by 083 601 9094 gekontak word indien jy betrokke wil raak.

Angela Aylward het pragtige hartjies op haar gesig laat verf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button