Mans- en vrouegholfspelers staan saam vir ‘n goeie doel
Randfontein en Krugersdorp Pageants het onlangs hul jaarlikse gholfdag genaamd 'Beauty on the Greens' gehou.
Talle gholfspelers het Randfontein en Krugersdorp Pageants se jaarlikse gholfdag met die titel Beauty on the Greens ondersteun.
Dit was Pageants se derde gholfdag en is op Donderdag, 18 November by die Krugersdorp Gholfbaan aangebied.

Volgens direkteur Janine Ferreira word daar jaarliks ‘n gholfdag gehou om fondse in te samel, wat dié keer vir vaardigheidsopleiding gebruik sal word.
“Ons bied kortkursusse aan en gaan in die nuwe jaar ‘n paar studente inneem. Hierdie fondse gaan alles dek wat vir die kursusse nodig is,” het Janine vertel. Die kursusse behels skoonheidsbehandelings soos dermaplaning, microneedling, microblading en vullers, asook grimering en haarversorging.

Nie net mans het aan die gholfaksie deelgeneem nie. Daar was ook ‘n vrouespan wat gewys het hoe dit gedoen word tydens dié gholfdag wat almal baie geniet het.
By die sesde putjie was ‘n splinternuwe Toyota Starlet op die spel. Die speler wat daar ‘n kolhou sou slaan kon die voertuig wen, maar ongelukkig kon niemand dit regkry nie.

“Dit was ‘n lekker inisiatief om die gholfdag meer opwindend te maak,” het Janine afgesluit.

