EPR-sekuriteit het hul weeklikse misdaadverslag uitgereik en diefstal is dié week heel bo aan die lys. Die sekuriteitsmaatskappy is ook uitgeroep vir ‘n aantal geregtelike doodsondersoeke.
Johan Krogh, die maatskappy se algemene bestuurder aan die Wes-Rand het gesê dat hulle agtergekom het dat soos die jaar einde se kant toe staan en die feestyd nader kruip, is die insidente besig om toe te neem.
“Ons merk weer ‘n toename in rowe, betreding, hekmotordiefstal, diefstal en saakbeskadiging.”
Drie en dertig insidente is in die tydperk tussen 15 en 21 November aangemeld. Agt van hierdie insidente was vir diefstal, ses vir saakbeskadiging en vyf vir huisbraak.
Ander insidente wat ook by hulle aangemeld is, is drie gevalle van geregtelike doodsondersoeke, poging tot diefstal, moord, voertuigdiefstal, roof, ‘n verdagte voertuig en een mediese geval.
Inwoners word herinner om vroegtydig hul alarmstelsels te toets en seker te maak dat dit in ‘n werkende toestand is voordat hulle op ‘n welverdiende vakansie gaan. Maak seker dat u sekuriteitsfirma in besit is van u nuuste kontakbesonderhede,” het hy inwoners aangeraai.

