Carla slaap, eet en droom kuns
Met een suksesvolle uitstalling agter die rug sê Carla Visagé dat sy nou maar eers begin. Haar kunswerke is reeds op almal se lippe.
Carla Visagé is nou maar eers ‘n jaar voltyds besig om haar kunsmeesterstukke te skep maar haar naam is alreeds op almal se lippe.
Die 45-jarige kunstenaar het vertel dat sy in 2006 ernstig begin skilder het. Sy het op skool geteken maar het nie kuns regtig as ‘n loopbaan oorweeg nie. Sy het na skool onderwys gaan studeer en kuns as vak geneem.
Sy het later aan die Ronzwa Art School onder leiding van Rona Swartz studeer, deeltyds foto’s geneem en as ‘n au pair gewerk om ‘n ekstra inkomste te verdien. In 2020 het sy egter besluit om uit die onderwys te bedank en voltyds te skilder.
“Dit was die grootste geskenk wat my man, Arrie my kon gee,” het sy vertel.
Die nuwe loopbaankeuse het Carla ook die geleentheid gegee om meer tyd saam met haar kinders te spandeer.
Dit is verskriklik lekker; dit is ‘n baie groot passie vir my. Ek slaap, eet en droom kuns.” Sy skilder onder die naam Carla Landman.
Teen die begin van 2021 het sy nagenoeg 30 kunswerke gereed gehad en besluit om ‘n uitstalling te hou. Sy het begin soek na ‘n uitstalruimte en by Helene Steyl, eienaar van die Greenroots Gallery uitgekom. Daar het Helene, Marlene de Wet en Abigail Holloway van die gallery haar gehelp om ‘n suksesvolle uitstalling aan te bied.
Carla het vertel dat daar tye was toe sy gedink het dat sy nie ‘n sukses daarvan gaan maak nie, maar het ook besef dat die Here vir haar ‘n talent gegee het.
“Hy het my gelei. Ek wil nie eendag op my sterfbed lê en wens dat ek die kans gewaag het nie. Ons moet ons talente vir die Here gebruik. Dit was ‘n groot sukses. Ek het saam met lieflike mense gewerk en sommer baie geleer oor die industrie ook.”
Sy skilder hoofsaaklik hande en het vertel dat hande baie van ‘n mens se karakter kan sê. Die tema van haar uitstalling was ‘Giving’, en Carla het gesê sy het dit spesifiek gekies omdat dit haar na aan die hart lê.
Ons almal sê altyd ons gee, maar bid jy regtig vir daardie persone, en luister jy regtig na hulle? Dit gaan oor die klein goedjies in die lewe en dat jy daar kan wees vir iemand.”
Haar kinders is meestal haar inspirasie. “Hulle is regtig klein miracles.”
Wat lê voor vir dié talentvolle vrou? Sy beplan om nog baie uistallings te hou en saam met ander kunstenaars te werk en uit te stal.
Sy voel ook dat sy nog wil leer en het vertel dat sy glo die lewe is te kort om alles te leer wat jy kan. Sy wil met nuwe tegnieke rondspeel en eksperimenteer.
Sy het ook onlangs Minki van der Westhuizen se dogter geskilder.
Jy kan Carla se kunswerke op haar Instagram-blad CarlaLandmanArt sien en haar sommer daar kontak ook.
