Nuwe begin vir FORA
FORA het onlangs na hul nuwe perseel in Tarlton getrek en hulle beplan om nog groot dinge te doen.
Na ‘n lang stryd en vele kinkels in die kabel kon Friends of Rescued Animals (FORA) se personeel en meer as 300 diere onlangs by hul splinternuwe perseel in Tarlton intrek.
Op Saterdag, 13 November is die laaste goed by die nuwe perseel afgelaai.
Die span het goeie werk gedoen; almal het meer as hulle kant gebring. Ek gaan eerlik wees deur te sê daar was tye – voor ons getrek het – dat ek gedink het ons sal nooit hier uitkom nie,” het Schalk van der Merwe van FORA vertel.
Hy het bygevoeg dat hulle nog so ‘n paar goed het om te doen om die nuwe perseel heeltemal in te rig, en dat dit in fases gedoen sal word. Eerstens moet hulle kathokke bou asook die personeel se verblyf regmaak of bou.
Tweedens gaan hulle fokus op die ontvangsgebou. Hulle wil die gaste-ingang en die parkeerarea teer of plaveisel lê, en dan ook ‘n staander vir die boorgattenk bou.
Derdens wil hulle ‘n onthaalarea bou waar mense met die diere kan speel, asook ‘n plek vir die babahondjies inrig.
Hulle beoog ‘n piekniekarea waar mense kan ontspan, en laastens wil hulle nog drie hondehokke bou.
Die grootste probleme wat opgeduik het terwyl hulle die trek beplan het was die onwettige myners asook aanhoudende krag- en wateronderbrekings. ‘n Plaaslike staking, hoë huurkostes en ‘n swendelaar het dinge ook moeilik gemaak.
Terwyl vrywilligers en personeel bloed en sweet ingesit het om te help, is daar ‘n baie suksesvolle liefdadigheidskonsert in Pretoria gehou deur Jacaranda FM se Martin Bester en Vriende, om vir FORA geld in te samel.
Tydens die konsert het Bob Martin vir hulle hondekos geskenk, en die organiseerders kon hondekos en kontantskenkings van nagenoeg R30 000 aan FORA oorhandig.
Schalk het gesê dat hulle by FORA ‘n hawe skep vir diere. Hulle wil die standaard vir dierewelsynsorganisasies in Suid-Afrika stel, en wil FORA in ‘n handelsmerk verander wat weer op hul beurt ander organisasies kan help.
Ons is baie dankbaar teenoor ons ondersteuners. Sonder hulle kan ‘n diereskuiling nie oorleef nie. Hopelik neem ons ondersteuners van hier af toe sodat ons ons drome kan bereik,” het Schalk gesê.
Hy het bygevoeg dat hulle altyd donasies verwelkom. Daar is altyd geld nodig vir die personeel se salarisse, veeartsrekeninge en onder andere medisyne en inentings vir die diere.
“Ons het altyd honde- en katkos nodig. Ons het ook die publiek se hulp met ons projekte nodig.”
Hulle doel is dat FORA uiteindelik sal kan teruggee aan die gemeenskap deur ander kleiner skuilings te help en ook die publiek te leer oor diereversorging.
“As ons al ons hokke gebou het gaan ons plek hê vir 500 diere.”
FORA bedank graag vir Steel Pipes Westrand, Tyron Truck Hire, W De Bruyn Plant Hire, die Lions Club, Shenan Cochran, en elke liewe persoon wat hulle ondersteun het, ‘n skenking gemaak het of gehelp het om alles op die ou perseel op te pak en na die nuwe perseel toe te trek.
Ek wil net dankie sê vir al die FORA-personeel. Hulle het die laaste ruk ongelooflike werk gedoen. Weereens baie dankie vir elke mens wat ons ondersteun. Sonder julle is niks moontlik nie.”
