Ebies-waterprojek op koers danksy gholfdag
Laerskool Ebenhaeser het op Donderdag, 2 Desember hul derde jaarlikse gholfdag met groot sukses aangebied.
Rant-en-Dal — Na ‘n oggend se swaar reën was Laerskool Ebenhaeser-personeel dankbaar dat die son op Donderdag, 2 Desember teen 11:00 begin skyn het terwyl spelers gereed gemaak het om af te slaan vir hul derde jaarlikse gholfdag by die Krugersdorp Gholfklub.
“Die gholfdag is die grootse fondsinsamelingsprojek op ons skool se kalender. Dit verseker dat ons projekte kan doen om ons skool te verbeter. Ons mikpunt vir die jaar was om R100 000 in te samel,” het Ebies-onderwyser Déan Liebenberg verduidelik.

“Die fondse sal aangewend word vir ons waterprojek wat ons sal help om water te bespaar en om ons boorgat in ‘n werkende toestand te kry.”
Die formaat was ‘n scramble drive, alliance wat in groepe van vier gespeel is. Van die top spelers het aan die einde van die dag gedurende die prysuitdeling verskeie pryse ontvang – van Adidas-sonbrille tot Appel Jagters-rum, en ‘n toilet-plunjer vir die speler wat die langste op die baan was.

Daar was ook vele ander pryse soos lekkergoedpakkies op die tafels wat die spelers kon kies volgens die puntevolgorde waarin hulle geëindig het.
“Ons as skool bedank graag vir Daniel Gibhard van The Skills Development Corporation en sy span vir al hul bystand wat as die hoofborg van die gholfdag verseker het dat ons ‘n sukses daarvan kon maak,” het Déan gesê.

