Kersvader bederf 200 kinders in Krugersdorp-Wes … op ‘n motorfiets
CarDiction het onlangs vir meer as 200 kinders 'n Kerspartytjie gehou en die dag was vol pret en plesier.
Krugersdorp-Wes — 'n Dag vol pret en plesier! Dit was waarvoor die span van CarDiction gesorg het toe hulle onlangs vir meer as 200 kinders 'n Kerspartytjie gehou het.
Frans Swanepoel van CarDiction het vertel dat dit die tweede jaar is dat hulle so 'n partytjie aanbied en dat daar niks lekkerder is as om 'n kind te sien glimlag nie.
Die kinders is op Saterdag, 11 Desember bederf met geskenkies, lekkergoed, warmbrakke, springkastele en glybane, en om die dag net lekkerder te maak het Kersvader op 'n motorfiets opgedaag om saam met die kinders te kuier.
“Dit was 'n reusesukses en ons kon nie vir 'n beter dag gevra het nie,” het Frans gesê.
CarDiction is 'n familiebesigheid met twee takke in Krugersdorp en bestaan reeds drie jaar.
Die idee vir 'n Kerspartytjie het verlede jaar ontstaan toe hulle 200 lekkergoedpakkies opgemaak het. Hulle het toe rondgery en die pakkies uitgedeel vir al die kinders wat hulle gesien het. Hierdie jaar het hulle egter besluit om eerder 'n groot partytjie te hou.
Vir hulle was die beste deel van die dag toe Kersvader op sy motorfiets daar aangekom het. Frans het gesê dit was lekker om die opgewondenheid op die kinders se gesigte te sien.
In plaas van lekkergoedpakkies het hulle vanjaar kaartjies uitgedeel aan die kinders wat hulle raakgeloop het. Dit was die uitnodiging na die partytjie. Hulle het ook 'n draai by Villa Gloria en 'n plaaslike veiligheidshuis gemaak om kinders daar ook uit te nooi.
Hierdie partytjie was so spesiaal dat hulle vertel het dat hulle graag in 2022 weer sulke projekte wil aanpak. CarDiction bedank graag die talle borge asook persone wat gehelp het om die dag so 'n groot sukses te maak, naamlik FNA Auto, Kopani Prime TV, Ultra Liquors Krugersdorp, Sweet Spot, Thermo Control, Corrie Kloppers, Branden Roots, Anna Swanepoel en Shalene van Biljon.