Laerskool Ebenhaeser laat nie op hulle wag nie. Hul Graad 1’s het op die eerste dag van die skooljaar op Woensdag, 12 Januarie gou gewoond geword aan die nuwe roetine.
Na ‘n ontmoeting en inligtingsessie die oggend het ouers en voogde hul kleintjies in die Graad 1-juffroue se sorg gelaat. Daarna kon hulle mekaar in die klaskamers leer ken voor hulle aan die werk gespring het.

Graadhoof Elizna Boshoff het verduidelik dat hulle reeds met vele klasoefeninge begin het, soos om te tel tot by 10, en te leer wat hul posisie in die algehele ruimte om hulle is (soos om ‘op’ die grond te staan en nie ‘binne’ die grond nie). Verder het hulle al hul eerste rympie geleer, basiese vorms (sirkel, vierkant, driehoek en reghoek) leer onderskei, hulself aan die klas voorgestel, vertel wat hulle die vakansie gedoen het, hul name met klei gebou, en meer.

Elizna het vertel hoe opgewonde die kleintjies was om hul eerste skets met swart kryt te teken.
Elkeen moet op die eerste dag ‘n selfskets doen, dan vergelyk ons dit met ‘n skets aan die einde van die jaar om te wys hoe vêr hulle gekom het. Ons wys nie vir hulle hoe om dit te teken nie om te bepaal waar hulle op hierdie oomblik staan, en waarop ons moet fokus in die klas.”
Laerskool Ebenhaeser het vanjaar sowat 120 Graad 1’s.


