Hekpoort-dansers op die internasionale verhoog
Vier dansers van die Marlene Dance Academy in Hekpoort het onlangs hul dansskool se naam hoog gehou by die American Dance Awards South African Championships.
Vier dansers van die Marlene Dance Academy in Hekpoort het onlangs hul dansskool se naam hoog gehou by die American Dance Awards South African Championships.
Mia Gerber, Elan Linde, Monique Button en Elryn Fourie het aan agt items deelgeneem en in daardie agt items het hulle tussen 80% en 90% behaal.
Marlene is bitter trots op haar dansers en het vertel dat hulle nie net elke Donderdagaand by haar oefen nie, maar dat hulle ook hard by die huis oefen. Haar skool bied verskeie style aan soos akrobaat, arial hoop, ballet, kontemporêr, disko, vrystyl, hip-hop, jazz, Irish, modern Spanish en klopdans.
Sy het vertel dat hul grootste uitdaging voor hierdie groot kompetisie was om die danse te leer en die tegniek reg te kry sodat hulle saam met die musiek eindig. Die harde werk is nog nie klaar nie.
Die dansers berei tans voor vir hul musiekeksamens en daar is ook studente wat in Julie vanjaar na Miami in die VSA toe gaan. Hulle moet nou nuwe solo’s kry en dit ook oefen.
Marlene het die dansskool al 22 jaar en het self as kind gedans. Sy het vertel dat harde oefening, dissipline en deursettingsvermoë die resep vir ‘n goeie danser is.
“Moenie vinnig tou opgooi as jy sukkel nie; hou aan tot jy dit regkry,” het sy gesê.
Sy het self al ‘n hele paar prestasies behaal, en het haar Internasionale Dansfederasie-kleure vir dans, en ook haar International Fine Arts Association (IFFA) internasionale kleure oorsee ontvang.
“Ek het in Australië deelgeneem en toe weer die kans gekry om oorsee deel te neem toe my dansskool se dansers in 2006 by die IFAA SA-kampioenskappe kwalifiseer het vir deelname in Mauritius. Ek en my dansers is toe in 2007 Mauritius toe.”
Sy het ook elke jaar haar akrobaatsportkleure in Noordwes gekry en aan die Suid-Afrikaanse Akrobaatkampioenskappe deelgeneem.
