Local newsNews

BRIEF: Tree op anders gaan plakkers Monument-dam oorneem

Ek gaan stap elke oggend langs die Monumentdam verby en begin nou bekommerd raak oor die getal boemelaars wat daar begin kamp opslaan – Krugersdorp-Noord inwoner

• Anoniem skryf:

Ek weet nie vir wie ek eerste moet kontak nie – julle, die SAPD of die raadslede nie.

Ek gaan stap elke oggend langs die Monumentdam verby en begin nou bekommerd raak oor die getal boemelaars wat daar begin kamp opslaan.

Eers het hulle sommer net buite onder ‘n boom geslaap, maar nou begin hulle al tente opslaan aan die westekant van die dam, en maak dit beslis vir hulle ‘n permanente blyplek. Die area om die tente is skoongeskoffel wat wys hulle is daar om te bly!! Daar is duidelik ‘n heerlike vuurmaakplek vir hulle om op kos te maak of om net by die vuur te sit.

Indien daar nie opgetree word teen hulle nie, en die tente ens nie verwyder word nie, gaan die damterrein een van die dae in ‘n plakkerskamp ontaard. Krugersdorp-Noord se sakegebied is nie veel beter nie.

‘n Deel van die roete wat ek soggens stap is ook verby die ‘klein dorpie’ in Krugersdorp-Noord (4de Straat). Daar is letterlik tientalle boemelaars wat daar op die sypaadjies lê en slaap, en sommer ook bly. Bedags is van hulle kamma karwagte. Hulle oë kyk so oormekaar van die dwelms en drank dat hulle op geen manier ‘n persoon sal kan teëgaan wat by ‘n kar wil inbreek of een steel nie.

Ek voel dat as daar nie daadwerklik teen hulle opgetree word nie, dit tot nadeel van die inwoners van die gebied gaan strek en uiteindelik tot Krugersdorp s’n ook. Huispryse gaan daal, inbrake is reeds besig om toe te neem in die area … en so kan ek aangaan.

Ek hoop regtig dat deur middel van u koerant daar aandag geskenk sal kan word aan die probleem en dat die politici en die SAPD iets daaraan sal doen.

Ek is seker die wyksraadslede moet beslis hiervan bewus wees?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button