‘n Sagte plek vir bejaardes
Riana wou eers net daar wees vir die bejaardes van die gemeenskap op hul verjaarsdae maar sy het vinnig besef dat hulle 'n baie groter nood het. Haar Bejaarde Hulp Stigting het ook jou hulp nodig.
Iets wat begin het as net ‘n geskenkie vir ‘n bejaarde op ‘n verjaarsdag het vir Riana Botha, die stigter van die Bejaarde Hulp Stigting bitter vinnig in ‘n voltydse liefdadigheidsorganisasie ontwikkel.
Riana het aan die News vertel dat hulle verlede jaar nie van ‘n onbewoonde woonstel op hul erf ‘n pakplek wou maak nie maar iets spesifiek met die spasie wou doen. Sy het toe besluit om vir bejaardes wat verjaar geskenkpakkies uit te deel, “… want baie van hulle is alleen op hul verjaarsdae”.
Sy het toe ‘n lys gemaak van die verjaarsdae van die inwoners van Pioneer- en Jack Cotton-tehuis en later haar niewinsgewende organisasie geregistreer. So het die Bejaarde Hulp Stigting ontstaan.
Elke bejaarde kry op hul verjaarsdag 12 kolwyntjies, ‘n geskenk en ‘n bederfoggend by ‘n koffiewinkel. Daar is vier koffiewinkels wat vir Riana borg en een keer ‘n week neem sy almal wat daardie week verjaar om koffie en ‘n lekkerny te gaan geniet.
Hierdie koffiewinkels is Verandah Bistro, Anna Paula’s, Koffieblik en Mon-Jéfique.
Hoe meer Riana by die bejaardes begin kuier het, hoe meer het sy twee dinge besef – dat daar ‘n baie groot behoefte aan kos is, en dat hulle soms net iemand nodig het om ‘n bietjie by hulle te sit en gesels.
“Baie van die bejaardes het weens Covid net in hul huise gesit en was te bang om uit te kom en met ander te meng,” het sy gesê en bygevoeg dat sy probeer om een keer ‘n week by hulle te gaan kuier. Dit is ook ‘n manier vir haar om te sien wat hulle nodig het, en hulle dan te help.
Sy het begin kospakkies uitdeel en het vertel dat sy items soos meel en suiker in sakkies opdeel en vir die mense uitdeel.
“Hulle kry net hul SASSA-geld en wanner die huur, water en ligte afgetrek is, is daar amper niks oor vir kos nie.”
In Desember het sy vir die bejaardes ‘n partytjie gehou met musiek, kolwyntjies en geskenke, en sy het ook sommer kospakkies uitgedeel.
Riana het vertel dat sy na haar ma oorlede is ‘n behoefte gehad het om bejaardes te help, en dat almal wat hulp van haar organisasie ontvang ouer as 60 is. Sy verleen hulp by verskeie plekke in Krugersdorp en het gesê dat die donasies in Januarie maar stadig inkom.
Al is skenkings van huishoudelike items altyd welkom het sy dringend kos nodig aangesien haar koskaste na Kersfees leeg is. Indien iemand bereid is om kolwyntjies te bak en te borg sal dit baie waardeer word, en daar is altyd ‘n behoefte aan verjaarsdaggeskenke.
Sy maak tans ou kosblikkies bymekaar om vir die bejaardes Valentynsdag-geskenkies te maak.
Indien jy vir Riana wil help en ‘n bydrae wil maak kan jy gerus haar Facbook-blad, Bejaarde Hulp Stigting NPC besoek, of haar skakel by 084 915 4173 of 074 247 7049.
