Ambulanté Academy het onlangs hul leiers vir 2022 verwelkom en sommer ‘n nuwe klaskamer bygekry.
Die skool het die afgelope jaar vinnig gegroei en het onlangs die onderste gedeelte van die gebou langs hulle ook begin huur, en sal hul seniorklas soontoe skuif. Hulle het sommer die klas ook ingewy terwyl hulle hul 2022 leiers verwelkom het.
Die 2022-leiers by Ambulanté Academy is Sabeeha Miajee, Ethan van Jaarsveld, Jaylé Botes, Luke Jansen van Vuuren, Milan Nagel, Tanya van Tonder, Hergard Muller, Nico Martins en Zané van As.
Nico, vanjaar se hoofseun het vertel dat hy graag die onderwysers en leerders wil help waar hy kan en ook baie hard gaan fokus op sy skoolwerk.
Jaylé, vanjaar se hoofdogter, het vertel dat sy verbaas was om as hoofdogter gekies te word maar dat sy graag die geleentheid wil gebruik om gehoorsaamheid onder die kinders aan te moedig, die onderwysers te help met dissipline, en te keer dat leerders mekaar boelie.
Die skool het ook reeds begin om ‘n sportveld aan te lê, en ‘n afrigter doen nou een keer ‘n week sportontwikkeling saam met die kinders. Sodra die grasbaan gelê is, sal hulle ‘n minisokker- en sokkerveld asook ‘n netbalbaan hê wat die kinders kan gebruik.
