Duisende mense het onlangs saam met Hoërskool Monument hul 100e verjaarsdag gaan vier … al was dit dan nou ‘n jaar later as beplan.
In 2021 het Hoërskool Monument 100 jaar oud geword maar ongelukkig as gevolg van Covid-19 maatreëls moes hulle baie van hul beplande aktiwiteite uitstel. Een van die grotes was hul 100 jaar musiekfees.

Saterdag, 5 Februarie was toe uiteindelik die groot dag. Al was dit die oggend bewolk het dit beslis nie die gemeenskap gekeer om in hul massas op te daag nie. Vriende en familie het reeds teen 11:00 toe die hekke oopmaak begin instroom om vir hulself ‘n plekkie naby aan die verhoog te kry.
Die fees het om 14:00 afgeskop met Bernice West gevolg deur Juan Boucher. Die dag was gevul met hoogtepunte maar Demi Lee Moore was beslis een van die skare se gunstelinge. Later die aand het Appel al sy treffers gesing, en Early B het die musiekfees afgesluit.

Deur die dag was daar ook vertonings deur die Monnas-dansers en Monnas-oudleerder, Brandon Eloff het sy nuwe treffer Johnny Blou vir sy geliefde alma mater gesing.
Nog ‘n verrassing was ‘n ‘flash mob’. Toe die musiek begin speel, het die kinders van oral af gehardloop om deel te wees van die dansgroep.
Al het die dag grys begin en dit vir sommiges gelyk het of reën dalk ‘n stokkie voor nog ‘n musiekfees gaan steek, was alles net reg en het die mense tot laataand die rugbyveld vol gedans op hul gunsteling Afrikaanse treffers.





