Elke jaar kry ‘n ander skool die geleentheid om die jaarlikse Cluster-atletiekbyeenkoms aan te bied. Op Vrydag, 11 Februarie het Laerskool Ebenhaeser dié voorreg gehad.
Ebies het met trots vir Monument Primary, Atlholang, WD Oliphant, Thusong, Sandile Primary en Laerskool Nooitgedacht verwelkom. Die skool se personeel het die vorige paar dae hard gewerk om die sportvelde perfek te kry vir die geleentheid.
Die skool sou oorspronklik dié byeenkoms in 2021 aanbied maar Covid-19 regulasies het veroorsaak dat die geleentheid ‘n jaar uitgestel moes word.
Ons het besluit om die byeenkoms by die skool aan te bied om nie net kostes te bespaar nie maar om ook vir elke leerder en ouer te wys dat ons trots op ons skool kan wees en groot sportdae in die weste van Krugersdorp kan aanbied,” het Ebies-sporthoof Stanley du Toit verduidelik.

Monument Primary het uiteindelik die eerste plek beklee met Nooitgedacht en Ebenhaeser in onderskeidelik die tweede en derde plek.
Stanley het genoem dat Ebies-leerders Amory de Bruin (hoogspring en hekkies), Nathan Swanepoel (hoogspring), Unathi Modise (1 200m), Wandré Schoeman (gewigstoot), Zachary Veldtmann (gewigstoot) en Javier Coljee (verspring) uitgestaan het.
“Ebies se atletiek is weer in die bouproses om dit weer tot die kragtige atletiekskool te herstel wat dit was en vir die leerders die kans te gee om hul talente te kan uitleef en te beoefen. Dié Cluster-byeenkoms is vir die eerste keer by die skool aangebied en dit was ‘n voorsmaak van nog vele byeenkomste wat ons beplan. Ons beoog om aan die einde van die jaar ‘n soortgelyke byeenkoms vir al Krugersdorp se laerskole aan te bied,” het Stanley laastens genoem.


