Lus vir skolesport terug by Mullies
Mullies-skoolhoof sê dit was heerlik om ouers en spelers te ontvang asook die reuk van gebraaide wors te beleef toe hulle die gasheer was vir Superreeks- en groepswedstryde teen Laerskool Jan van Riebeeck en Laerskool Vryheidsmonument.
Die lus vir rugby en netbal het weer vlamgevat by Laerskool Muldersdrif toe hulle ‘n Superreeks-en groepswedstryde teen twee ander skole op Saterdag 26 Februarie aangebied het.
Die drie skole wat die dag kragte gemeet het was Mullies, Laerskool Jan van Riebeeck en Laerskool Vryheidsmonument. Dit was Mullies se eerste groot rugby- en netbaldag vir die jaar en is deur nagenoeg 1 050 mense (insluitend spelers) bygewoon.
“Soveel moontlik spelers het die geleentheid gekry om deel te neem, terwyl die afrigters die kans gekry het om spelers se potensiaal raak te sien om spanne te finaliseer vir die komende ligas,” het Mullies-sportorganiseerder Elra Blacquiere gesê.
Mullies-hoof Herman Byleveld het gesê, “Dit was heerlik om ons eie ouers, Mullies-spelers en die besoekende ouers en spelers te ontvang en die opwinding te beleef van stemme, fluitjies, aanmoediging van ouers en personeel, heerlike reuk van gebraaide wors, pannekoek en ritmiese musiek.
“Ons het ook ‘n verkoopspunt gehad vir Chris Oldacre en span wat groot opheffingswerk by die skole doen, veral met skooldrag.”
Die volgende rondte groepswedstryde vind plaas op Saterdag, 12 Maart. Dit is in dié stadium nog nie bekend watter skole gaan deelneem nie.









