Nehemiah wil groei, met hulp
Huis Nehemiah en die Cross Connect Community Outreach organisasie is in die proses om na 'n groter perseel te skuif maar benodig die gemeenskap se hulp.
Huis Nehemiah en hul oorhoofse organisasie, Cross Connect Community Outreach (CCCO) is deurgaans aan die groei . Dit blyk dat hulle elke jaar meer mense in die gemeenskap help, en selfs nog meer graag wil bystaan.
Die CCCO voorsien duisende persone regoor die Wes-Rand elke week van kos, en gee berading en ander ondersteuning vir diegene wat moeilike tye beleef – van dié wat hul werk verloor het tot dié wat uit gewelddadige situasies kom. Hul Huis Nehemiah neem drie- tot 18-jarige kinders in wat geen ander heenkome het nie en verseker dat hulle in ‘n sorgsame omgewing grootword en nie van die pad afdwaal nie.
Huis Nehemiah het sy deure op 1 Augustus 2021 oopgemaak in ‘n huis wat hulle tans nog huur. So ook huur die CCCO kantore aan die ander kant van die dorp. Aangesien beide hoofsaaklik afhanklik is van donasies van die gemeenskap, en dat hulle uitgawes elke maand baie hoog is, het dit vir die organisasie nodig geword om na ander opsies te kyk.
Kyle Tolman, stigter van die CCCO en sy span het onlangs die perfekte huis in Noordheuwel gevind en sommer ook dié keer gekoop. Hy het verduidelik dat hulle binne die volgende paar weke in hul kantore daar sal intrek soos wat Babeloo Dagsorg die perseel ontruim.
Vir eers sal CCCO ‘n deel van die hoofhuis gebruik, maar wil binnekort ‘n dubbelverdiepingkantoor oprig in die voorerf. Die huis sal dan binne die volgende drie maande, voor hul huurkontrak vir die huidige huis verstryk, omskep word in ‘n huis vir kinders.
Alles moet oorgedoen word – teëlwerk, die kombuis, badkamers … alles!” het Kyle vertel.
Hiervoor het die CCCO die hulp van die gemeenskap nodig in die vorm van bouers, loodgieters, verwers ensomeer wat op enige manier kan bydra. Kyle het ook laggend vertel dat hy baie bly sal wees as iemand net by hulle opdaag met 100 000 bakstene.
Die nuwe huis sal meer as dubbel die kapasiteit van die eerste een hê en sal 30 inwoners kan huisves. Hulle sal dan ook ouer kinders kan inneem.
“Daar is nie plekke in die omgewing wat ouer kinders inneem nie. Dit is ‘n baie groot probleem. In hierdie huis sal ons kinders van verskillende ouderdomme akkomodeer.”
Kyle het verduidelik dat hulle kinders tydelik en permanent inneem, wat beteken dat hulle ‘n ruk in Nehemiah woon voor hulle ‘n ander meer permanente woning kry of kan teruggaan na hul families toe, of in Nehemiah woon tot hulle 18 word.
Die CCCO het ook groot planne vir die toekoms, soos om te begin opleiding bied vir ouers om hulle kinders weer oor ‘n tyd te mag terugkry, en om maatskaplike dienste te help deur meer pleegouers uit die gemeenskap te kry.
Maar vir eers vra Kyle en sy span dat wie ook al in die gemeenskap kan help met fondse, boumateriaal of kundigheid hulle sal kontak by 010 100 0075.
