NewsSchools

Vier Nories gekies vir ATKV-DigiToneel se top 16

ATKV-DigiToneel se top 16 bekendgemaak en daar is vier leerders van Hoërskool Noordheuwel onder hulle.

Ná die suksesvolle vervaardiging verlede jaar van die ATKV se eerste realiteitsreeks vir televisie, Gekies vir die Kollig, het deelnemers aan ATKV-DigiToneel in 2022 weer die geleentheid om hul spel vir kamera te ontwikkel en moontlik hul buiging op TV te maak.

ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm.

“Vanjaar put ons inspirasie uit die getal 22. Dit is immers die jaar 2022 – ’n jaar waarin ons groot droom, maar steeds soepel sal moet wees in ons denke en avonture. Moet egter nie dat die uitdagings wat ons steeds omsingel jou ambisie en potensiaal kniehalter nie. Al wat dit soms verg is ’n klein aanpassing hier en daar en siedaar, ’n loopbaan in die kreatiewe kunste is joune!” het JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel in ‘n verklaring gesê.

Dit was hierdie temas waarmee ons deelnemers vanjaar moes woeker om hul spel vir kamera te ontwikkel en hul skryftalent vlerke moes kry met die hulp van ons mentors. Inskrywings het ingestroom en dit het kopkrap geverg om die top 16 aan te wys.”

Mentors Schoemé Grobler, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en Lea Vivier is dit eens: “Ons is verstom oor die gehalte van die werk.

Zoë Labuschagne. Foto ingestuur.

“Met ATKV-DigiToneel is daar geen kortpaaie deur byvoorbeeld bestaande werk af te stof en nuut aan te bied nie. Die doel met DigiToneel is om nuwe werk te skep en dit vir kamera te verfilm.

Die groei in kwaliteit van vanjaar se inskrywings spoor die projek aan om in die kreatiewe vraag te probeer voldoen. My hart klop warm daaroor dat meer as ’n kwart van die inskrywings reeds in die eerste rondte goue toekennings behaal het. Maak nie saak watter temas ons vir hierdie tieners gooi nie, hulle skep kreatiewe karakters met interessante storielyne wat jou binne vyf minute boei.”

Almal wat ingeskryf het, ontvang benewens hul toekennings vir prysenswaardige prestasie in die eerste rondte, ook persoonlike stemnotas van twee mentors op die paneel wat hulle kan gebruik om hul werk te verfyn.

Die top 16 skaaf nou aan hul inskrywings en word dan verder deur nog twee beoordelaars gementor op hul reis na die nasionale eindronde, wat in Oktober tydens die tweede seisoen van Gekies vir die Kollig op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai sal word.

Krugersdorp kan breëbors staan aangesien vier leerders van Hoërskool Noordheuwel gekies is vir die top 16. Hulle is Karli Marais (Raas), Melandi Swiegelaar (Plonks), Rico Immelman (ont.hou) en Zoë Labuschagne (Skemer aan ’n toutjie).

Karli Marais. Foto ingestuur.

Hou die ATKV se webwerf en sosiale media dop vir wanneer die top 8 op 15 Junie aangekondig word.

’n Digitale bundel met die toptekste (wat ’n goue- [80–89%] of cum laude- [90–100%] toekenning ontvang het) word ook in Oktober bekendgestel.

Melandi Swiegelaar. Foto ingestuur.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button