Dankie Lottoland vir ons nuwe voertuig – Cradle of Hope
Dima het vertel dat hulle dringend 'n voertuig nodig gehad het en dat God het een voorsien het deur Dankie Lottoland.
Die span van die Cradle of Hope ry deesdae in ‘n splinternuwe voertuig rond – ‘n onverwagse geskenk wat Dankie Lottoland aan hulle gegee het.
Dima Tomotomo van die Cradle of Hope het vertel dat hulle by Dankie Lottoland aansoek gedoen het vir befondsing. Die program se filmspan het toe vir drie dae by die organisasie gaan kuier en hulle gevolg terwyl hulle die gemeenskap help.
Op Vrydag, 25 Februarie het hulle egter ‘n oproep ontvang dat daar vir hulle iets groot op pad was en dit is toe dat die Dankie Lottoland-span daar opdaag met ‘n splinternuwe Toyota Rumion, kompleet met ‘n rooi strik.
Die voertuig kon nie op ‘n geskikter tyd gekom het nie want op daardie stadium was hulle ander voertuig onklaar. Behalwe dat hulle weer kan voortgaan met daaglikse take soos inkopies doen, donasies oplaai, die vroue in hul sorg na doktersafsprake of onderhoude neem het die voertuig ook sewe sitplekke. Dit beteken dat hulle hom as die nood druk kan gebruik om die kinders skool toe en terug te vervoer.

Dima het vertel dat hulle in daardie stadium dringend ‘n voertuig nodig gehad het en dat God het een voorsien het deur Dankie Lottoland.
Min dinge kan egter die organisasie onderkry en hulle is reeds weer hard aan die werk om befondsing te kry vir hul nuutste projek, genaamd Project Stepping Stone.
Hulle het onlangs 1,5 hektaar grond naby Munsieville gekoop en beplan om meeste van hul projekte soontoe te verskuif en van daar af te werk. Maar om die gebou en stuk grond bruikbaar te kry het hulle R5 miljoen nodig. Dit moet dringend omhein word en daar is baie opknapwerk aan die gebou nodig.
Die organisasie voorsien vir meer as 1 200 mense per dag van kos deur hul onderskeie gemeenskapsprojekte, en indien jy ‘n bydrae wil maak, kan jy gerus hul Facebook-blad besoek by https://www.facebook.com/TheCradleofHope.
