NewsSchools

Parapleeg inspireer Nories

Hoërskool Noordheuwel se Hemelvaartdiens van 2022 sal lank onthou word.

Ons lewe kan in ‘n oogwink verander en Alwyn Uys, 31, ‘n rugbyster van Stellenbosch, het tydens die skool se Hemelvaartdiens op Donderdag, 26 Mei voor nagenoeg 2 000 Norie-leerders en -personeel getuig hoe sy rugbydroom jare gelede beëindig is.

Hy het verduidelik hoe hy op 13 Desember 2014 in ‘n grusame motorongeluk betrokke was waarna hy van sy bors af ondertoe verlam was. Dit het hom egter nie gekeer om die lewe te kies en te doen waarvoor hy lief is nie – sport!

Deesdae vertel hy sy storie van hoop met die doel om mense te inspireer, die Woord te versprei en te vertel van die effek wat die Heilige Gees in sy lewe het.

Hy het die gehoor vertel hoe hy ‘n jaar lank vir die Sharks se Akademie-span en daarna vyf jaar vir Maties uitgedraf het, asook sy graad voltooi het. Rugby het hom duidelik na aan die hart gelê, maar toe gebeur die onvoorsiene.

Ek het my oë vinnig van die pad afgehaal, beheer oor die voertuig verloor, en toe ek weer kyk het die kar gerol. Ek het uitgeval, my rug gebreek en toe is ek verlam,” het hy vir die News vertel.

Alwyn se motor na die ongeluk. Foto ingestuur.

Die herstelproses was lank en Alwyn het vertel hoe hy jare lank na ou foto’s van sy skool- en rugbydae gekyk het. Maar Alwyn het nie bly lê nie en danksy familie asook vriende se ondersteuning kon hy aangaan met sy lewe. Hy het jare later teen alle verwagtings in ‘n volle Ysterman voltooi as die eerste parapleeg in Suid-Afrika wat dit kon regkry, en hy was meer onlangs die eerste para-atleet wat die afstand tussen Robbeneiland en Blouberg kon swem.

“Almal sien net die rolstoel maar daar het baie dinge voor die ongeluk gebeur. Ek het lank met erge pyn saamgeleef en na ‘n ordentlike ondersoek is ek in my vroeë 20’s met dikdermkanker gediagnoseer. Ek het toe vir die eerste keer my lewe in oënskou geneem, veral nadat die dokter gesê het ek kan maar vergeet van sport. Ek het nie geluister nie en vir myself gesê ek gaan die beste hiervan maak. In my laaste wedstryd vir Maties skeur ek toe spiere in my skouer, bors en bisep.

‘n Vreugdevolle Alwyn Uys toe hy die Ysterman voltooi. Foto: Nelis Engelbrecht.

“Toe besluit ek maar om eerder skaak te speel,” het Alwyn gegrap maar bygevoeg, “Vandag is dit effens ironies want jy gebruik net jou bolyf om skaak te speel, en vandag kan ek net my bolyf gebruik.

Ons moet nie net staatmaak op dit wat ons fisies kan doen nie. Jy moet die beste van alles maak. Ja, ek is in ‘n rolstoel maar is steeds lief vir sport. Ek gaan nog steeds alles doen wat ek kan in ‘n rolstoel. Dit is wat my gedryf het om ‘n Ysterman in ‘n rolstoel te doen.”

Gevra of die ongeluk eerder iets teruggegee het as wat dit weggevat het, het Alwyn gesê, “Dit het definitief vir my iets anders gegee. Die ongeluk het eintlik my doel vir my bekendgemaak en ek het regtig anders begin dink oor die lewe, en waartoe ek in staat is wanneer ek die Here aan my sy het.

“Almal gaan deur iets in die lewe. Jy is dalk in ‘n donker gat en jy kan nie uitkom nie, maar dan hoor jy iemand anders se storie en besef jy het eintlik baie om voor te lewe. Daar is altyd hoop, maak nie saak hoe sleg jou omstandighede is nie; daar is ‘n uitweg saam met die Here. Niks vang Hom onkant nie.”

Nories-onnies Janie Delport en Brendon Grové sing uit volle bors.

Sy boodskap aan almal teenwoordig was eenvoudig.

“Ons kan nie ons identiteit bou op ons fisiese eienskappe en wat ons kan doen nie. Ek het geleer hierdie goed kan so vinnig van jou af weggevat word. Ons moet ons identiteit plaas in die Here – dit is iets wat nooit geskud of weggevat kan word nie.

Ysterman is een van die moeilikste goed wat ek in my lewe gedoen het maar ook die ongelooflikste. Ek kon nie verstaan hoekom die Here my in ‘n rolstoel wil hou nie maar toe besef ek watter impak jy kan hê deur jou omstandighede. Dalk gaan jy nou deur iets; iets met die familie, finansieel, jou huwelik of ouers. Soos met Hemelvaart het Jesus opgegaan maar daar het ook iets afgekom – die Heilige Gees. Hy is met ons almal.”

Hy sluit toe af met die volgende aanhaling uit Lukas … ‘gee dus getuienis vir die werke van julle vaders’.

“Gee terug. Ek wil julle uitdaag hierdie naweek of week wat kom. Gaan deel die Here se liefde met iemand en bly hoop. As Hy my storie kon omdraai dan kan Hy iets in jou lewe ook doen.”

Duiwe word losgelaat ter viering van Hemelvaartdag.

Sonet Guy, Nories-skoolwoordvoerder het vertel wat die doel van die dag was “… om as ‘n Afrikaanse Christelike skool Hemelvaart te vier. Ons wou tesame daarmee dankie sê vir dit wat ons het en teruggee aan die gemeenskap deur R6 500 te skenk aan die Wesrand Skool, en komberse insamel wat ons in die gemeenskap sal uitdeel vir dié in nood. Ons is almal tog dieselfde en omdat ons ontvang wou ons uitreik na ander.”

Leonore Coetzer, waarnemende hoof van die Wesrand Skool ontvang ‘n tjek van R6 500 van Nories-hoof Dawie Kriel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button