‘More abilities than disabilities’
Leerders van Wesrand Skool inspireer tydens Nories se Hemelvaartdiens.
Hy’s ‘n blondekopseun in graad 3 en in ‘n rolstoel. Sy bene is baie korter as sy arms en hy dra ‘n bril.
Nagenoeg 2 000 kinders, personeel, gaste en mediaverteenwoordigers se oë is op hom maar hy is nie huiwerig, bang of skaam nie. Sy rolstoel word tot reg in die middel voor die skoolpawiljoen gestoot waar almal hom kan sien want hy wil graag iets sê. Met die mikrofoon in sy hand begin hy praat en almal is dadelik dol oor hom. Sy gestremdheid maak nou niks saak nie. Hy geniet elke oomblik in die kollig en almal dink hy is vrek oulik. Jy hoor selfs meisies in die pawiljoen sê “Awww …”
Twan Saayman was een van talle kinders van die Wesrand Skool in Wentworth Park wat Hoërskool Noordheuwel besoek het tydens hul Hemelvaartdiens.
Lees ook: Parapleeg inspireer Nories
Soos die res van sy maatjies is Twan se storie een wat ‘n knop in die keel bring en jou laat besef dat ons baie het om voor dankbaar te wees.
Twan ly aan spina bifida en okkulêre albinisme.
Leonore Coetzer, waarnemende hoof van die Wesrand Skool het verduidelik dat die skool na Nories se Hemelvaartdiens genooi is waar hulle met ‘n donasie van R6 500 verras is wat vir die skool se voedingskema aangewend gaan word.

Oor Twan het sy gesê, “Hy is baie pittig en baie sterk in sy hande en arms; hy wip baie maklik op ‘n tafel en loop self op sy hande. Our learners have more abilities than disabilities.
“Die Wesrand Skool is ‘n geïntegreerde, multikulturele, veelrassige skool wat voorsiening maak vir ‘n verskeidenheid leerders met spesiale behoeftes. Ons jongste leerder is drie jaar oud en ons oudste is 18. Die 271 leerders het verskeie fisiese gestremdhede soos serebrale verlamming, spina bifida, spierdistrofie, amputasies, harttoestande, oorerflike heupontwrigting, verskeie tipes sindrome, en gehoorgestremdhede. Die meeste leerders is met hierdie toestande gebore.
Ons maak oor voorsiening vir leergestremde leerders. Daardie leerders is verstandelik normaal, maar ondervind probleme met lees, spel en wiskunde. Hulle ondervind ook dikwels probleme om aandag te gee en te konsentreer, kan hiperaktief wees, en probleme ondervind om met hul gelykes te sosialiseer.”
Indien jy na die skool wil uitreik of vir meer inligting oor die Wesrand Skool verlang, besoek gerus hul amptelike webwerf.



