Krugersdorp-Wes is dik vir tik
'n Groep aktiviste het onlangs die strate van Krugersdorp-Wes ingevaar om hul stemme dik te maak teen dwelms.
Die skade wat dwelms aanrig kan jare neem om te herstel. Dit vang nie net die gebruiker in ‘n greep van verslawing vas nie maar dit gaan dikwels gepaard met haweloosheid, misdaad en erge gesondheidsprobleme. Dit het boonop ‘n geweldige impak op die verslaafde se familie en vriende.
‘n Groep aktiviste het onlangs die strate van Krugersdorp-Wes ingevaar om hul stemme dik te maak teen dwelms.
Op Saterdag, 21 Mei het die Glow4Jesus-ondersteuningsgroep met plakkate en luidsprekers deur die strate van Krugersdorp-Wes gestap terwyl hulle soos een man slagspreuke geskreeu het soos ‘Say no to drugs, say yes to Jesus’ en ‘Lankal dik vir tik’. Die Glory to Glory- en die Rhema-ondersteunersgroep het van Roodepoort af gekom om by die groep aan te sluit. Hul bestemming was die Villa Gloria-nedersetting in Krugersdorp-Wes.
Sweis Harmse, die stigter van die Glow4Jesus-groep het vertel dat hulle soontoe gegaan het omdat daar ernstige probleme met dwelmmisbruik in daardie gemeenskap is.
Ons gaan oral om mense te help; die Here het dit op my hart gelê om na Villa Gloria toe te gaan,” het Sweis vertel en bygevoeg dat hulle vir die gemeenskap wou wys wat die Here kan doen. Hulle het hul eie getuienisse met die inwoners gedeel en ook vir hulle vertel van die verskillende dienste wat hul groep aanbied.
Glow4Jesus is in Maart vanjaar na ‘n teendwelmbewusmakingsveldtog gestig.
“Ons het die groot nood in Krugersdorp gesien en deur die wil van die Here die groep begin,” het Sweis gesê.
Hul groep bestaan uit mense wat van hul dwelmverslawing bevry is, en hulle weet dus presies waardeur iemand gaan wat in verslawing vasgevang is.
“Ons was waar hulle nou is en ons weet wat is die gevare van dwelmverslawing. Ons weet ook hoe om hulle te help.”

Toe die groep drie maande gelede begin is, was daar maar net vier lede. Sedertdien het die groep tot 64 lede gegroei. Hulle kom elke Dinsdagaand om 19:00 bymekaar en by dié vergaderings kry mense bystand wanneer dit moeilik gaan.
“Ons is ook daar om mekaar te bemoedig en deur die donker dae te help. Ons probeer regtig ons bes om hulle van dwelms af te hou, en ons vertel hulle waardeur ons gegaan het en wat hulle moet doen om die dwelmvyand teen te staan.
Ons doel is nie net om hulle van dwelms af te kry nie, maar ook dat hulle kan sien hoe verwoes dwelms die lewens van die mense wat vir hulle omgee. Ons wil families herenig en kinders weer terug in hulle ouers se sorg kry.”
Die groep reik ook uit na skole waar hulle bewusmakingveldtogte aanbied en help om vir kinders met dwelmprobleme hulp te kry. Hulle het reeds ‘n hele paar jongmense gehelp om na rehabilitasiesentrums toe te gaan en Sweis het vertel dat die kinders lewende getuies is dat jy jou dwelmverslawing kan oorkom. Hulle is nou reeds besig by twee skole in Krugersdorp en werk ook saam met RATA, ‘n welsynsorganisasie.
Niemand word weggewys by hulle nie en enige iemand is welkom. Hulle kom elke Dinsdag by die Glow4Jesus Non Judgemental Church op die hoek van Roode- en Roodekransstraat in Burgershoop bymekaar.
Indien jy of iemand wat jy ken hulp nodig het, skakel gerus vir Sweis Harmse by 061 317 4698 of kom sluit by hul groep aan. Daar is ook ‘n Podcast waarna die gemeenskap kan loer by https://open.spotify.com/show/4QwG15Eb6IW2INpMvOVpdu.

