Local newsNews

Juffrou verloor hand as gevolg van aggresiewe kanker

'n 26-jarige laerskoolonderwyser is onlangs met 'n baie aggressiewe kanker gediagnoseer. Jy kan haar so help.

Die borrelende Natasja Prinsloo se hele lewe het in ‘n oogwink verander. Sy het nie net gehoor sy het ‘n aggressiewe vorm van kanker nie maar ook dat haar linkerhand binnekort geamputeer moet word.

Die 26-jarige laerskoolonderwyser woon in Witpoortjie en het vertel dat sy onlangs ‘n gewas uit haar hand laat sny het. Tydens ‘n opvolgafspraak het sy uitgevind dat die gewas kwaadaardig was en dat sy aan die uiters aggressiewe alveolêre rabdomyosarkoom ly.

Sy het ongelukkig nie ‘n mediese fonds nie en is na die Chris Hani Baragwanath Hospitaal verwys.

Die amputasie sal tot in die middel van haar voorarm gedoen moet word om infeksie te voorkom, maar die kanker het egter reeds verder versprei. Natasja, wat steeds in die hospitaal is, sal heel moontlik na die operasie nog chemo- en radiasiebehandeling moet kry.

Dit is sonder twyfel die moeilikste om in die hospitaal te wees, weg van my gesin en die omgewing waaraan ek gewoond is. Ek het nog nooit so erg huis toe verlang nie.”

Gebed en die magdom mense wat saam met haar bid hou haar positief.

“Ek is geseën met die wonderlikste kêrel, familie en vriende wat my op die moeilike dae herinner aan redes om positief te bly.”

Haar boodskap aan ander kankerpasiënte is om nie jou emosies te onderdruk nie.

“Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Huil wanneer jy voel jy wil huil, lag wanneer jy voel jy wil lag. Omring jouself met mense wat jou opbou eerder as afbreek, en laastens, jy het hierdie!”

Na die operasie gaan Natasja alles van voor af moet leer doen, en sy sal haar kar moet laat ombou sodat sy weer sal kan bestuur. Haar lewe het nou tot stilstand gekom deur die hospitaalverblyf – sy kan nie nou werk nie en het gevolglik tans geen inkomste nie.

Sy het vertel dat haar groot bekommernis is dat sy nie in haar daaglikse behoeftes kan voorsien nie.

Ten spyte daarvan dat sy angsbevange oor die onbekende is, sien sy uit na die uitdaging om alles op ander maniere te leer doen.

“Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, daarom is my enigste troos dat ek ons Vader se hand styf kan vashou en al my bekommernisse by Hom kan neerlê.”

Tydens die amputasie gaan daar ook ‘n biopsie van ‘n knop onder haar linkerarm gedoen word. Al het dokters haar voorberei dat dit heel moontlik die kanker is wat versprei het, hoop Natasja dat dit net haar liggaam se manier is om te reageer op die kanker in haar hand wat volgens haar drie ton swaar voel.

Haar vriendin Chrisne Nelson het vir haar ‘n BackaBuddy-blad gestig om fondse in te samel om Natasja te help met haar daaglikse behoeftes en dalk iets wat sy na die operasie gaan nodig hê om haar lewe weer so normaal as moontlik te maak.

Jy kan die blad besoek by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/natasja-prinsloo.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button