Na maande se harde werk – van nuut skryf en speel vir die kamera en die implementering van waardevolle mentorsessies tot deelname aan ‘n naelbytsemifinaal – is die top agt-finaliste aangewys wat tydens die tweede seisoen van Gekies vir die Kollig op TV gaan skitter!
ATKV-projekorganiseerder JJ van Niekerk het gesê dat hy dankbaar is dat hy nie in die mentorbeoordelaars se skoene was nie. Die top 16-semifinaliste het sedert hulle vir die eerste rondte ingeskryf het strate verbeter, en die punte het dit weerspieël.
Hierdie agt finaliste het in hul laaste voorbereiding vir Gekies vir die Kollig, wat van Dinsdag 11 Oktober af om 19:30 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai sal word, weer ’n lys met terugvoer van die mentorbeoordelaars ontvang.
Hier is die ATKV-DigiToneel top agt-finaliste vir 2022:
• Carla Hugo van die Hoërskool Zwartkop in Centurion met Oogdruppels is nie gemaak om te drink nie
• Danelle Jacobs van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas met Dag 1 is beter as dag 2
• Talia Roux van Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes met Spieëltjie Spieëltjie
• Karli Marais van Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Raas
• Lehan Kruger van Helpmekaar Kollege in Johannesburg met Rooi-lip stompies
• Lucy Groenewald van Eunice High School in Bloemfontein met Wakker word
• Lisa Kukard van die Hoërskool Durbanville in Kaapstad met Legio
• Rico Immelman van Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met ont.hou

Die top agt-finaliste kry nou die geleentheid om tydens verfilming van die reeks met die buitementor vir Seisoen 2, Solomon Cupido, skouers te skuur. Hy is ’n kenner op die gebied van skryf, speel, regie en filmvervaardiging.
Pietie Beyers is vanjaar se aanbieder van die reeks en hy gaan self inklim om vir oulaas die finaliste saam met Solomon te help voorberei om die mentorbeoordelaars (Lea Vivier, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en Schoemé Grobler) met hul werk te beïndruk.
Kyk hier na die bekendstelling van die finaliste.
