Die kolonel stel sy boek oor die Krugersdorp-moorde bekend
Die boek is in samewerking met Sunday Times-joernalis Nicki Gules geskryf.
Hierdie pas afgelope Saterdag, 2 Julie, het afgetrede kolonel en baasspeurder Ben “Bliksem” Booysen sy bewonderaars by Key West ontmoet en lesers se eksemplare van sy boek Op die spoor van die Duiwel geteken.
Die promosie het plaasgevind in samewerking met Bargain Books.
Die boek handel oor ‘n gefrustreerde Booysen wat in 2016 manalleen die berugte Krugersdorp-moorde begin ondersoek het na brouwerk deur die aanvanklike ondersoekspan. Weldra is die meesterbrein Cecilia Steyn en haar vyf trawante in hegtenis geneem vir 11 moorde waarvan die eerste reeds in 2012 gepleeg is. Die groep met hul sterk okkultiese betrokkenheid het bekendgestaan as Electus per Deus.
Volgens die boek se agterblad onthul Booysen “saam met die Sunday Times-joernalis Nicki Gules… skokkende besonderhede van polisie-onbevoegdheid en nuwe, sensasionele inligting oor die moordenaars, hul misdade en lewe in die tronk, in ‘n makabere verhaal wat die land amper ‘n dekade lank vasgenael gehou het”.
Die boek is ook in Engels beskikbaar as On the trail of the Devil.
