Local newsNews

Nadia nooi luisteraars uit om saam te droom

In Nadia Zara se nuutste enkelsnit 'Before the light' wil sy graag haar aanhangers nooi om saam te droom oor die soeke na ware liefde en die hoop dat jy dit sal vind.

Met Nadia Zara se nuutste enkelsnit Before the light nooi sy haar aanhangers om saam te droom oor die soeke na ware liefde en die hoop dat jy dit sal vind.

“Die enkelsnit gaan oor ‘n meisie wat haar droom najaag om die perfekte persoon se aandag te trek en dit hare te maak,” het sy vertel en bygevoeg dat mens nooit jou drome moet prysgee nie. Dit is juis die aanhou wat die inspirasie vir die lied was.

“Probeer jou drome verwesenlik – of dit nou is om die liefde van jou lewe te vind, of waarna jy ook al smag. Ek sou sê dat die woorde van hierdie liedjie mý gekies het.”

In 2019 het sy Hartsklanke bekend gestel en dit is baie goed deur die publiek ontvang, het Nadia vertel. Sy glo dat Before the light ook baie gewild gaan word omdat almal in die lewe maar net aanvaar wil word en iemand soek om hulle lief te hê.

Nadia se passie lê nie net by sing nie en een van die hoogtepunte van haar loopbaan tot dusver was toe sy haar teaterdrome kon uitleef deur opleiding by Brümilda van Rensburg te ontvang. Dit sluit aan by haar liefde vir ou teatermusiek – kunste-naars soos Bette Milder, LeAnn Rimes en Whitney Houston het nog altyd ‘n invloed op haar styl gehad.

Nadia is in Pretoria gebore en bly deesdae in Roodepoort saam met haar man en hondekinders. Musiek was nog altyd deel van haar lewe en sy het vertel dat dit amper soos ‘n tipe terapie was waarin sy vrede kon vind.

Haar oupas aan albei kante kon instrumente bespeel en een van hulle het ook baie mooi gesing.

Selfs in haar aftyd lewe sy haar kreatiwiteit uit. Sy hou van baldans, lees, sing en om tyd saam met haar familie en vriende te spandeer.

“Ek het na skool besluit om te begin sing. Terwyl ek by Fred Astaire Dance Studios gewerk het as dansinstruktrise het ek deeltyds begin sing.”

Sy het ook vir ‘n hele paar sangkompetisies ingeskryf en goed gevaar. Sy het sanglesse begin neem om haar loopbaan ‘n hupstoot te gee en 25 jaar later is sy steeds in die musiekbedryf.

Nadia se inspirasie kom nie noodwendig van iets spesifiek nie maar het vertel dat haar emosies en die dinge waarby sy aanklank vind daartoe bydra.

Sy het byvoorbeeld as kind baie gedigte geskryf en toe reeds geweet dat sy ‘n sanger wil word.

Die musiekbedryf het Nadia geleer om ‘n dik vel te hê en dat geduld en harde werk mens sal deurdra. Sy het deur die jare verskeie toekennings ontvang; onder andere die Helicat-benoemings vir Beste Vroulike Kunstenaar en Sanger van die Jaar in 2015, sy het in 2012 en 2014 die Battle of the Idol gewen, die Bay City Idols in 2013 en 2015, en nog vele meer.

Before The Light is nou beskikbaar op alle aanlynplatforms: https://embracethebrand.ampl.ink/BeforeTheLight en jy kan Nadia volg op haar sosiale media-blaaie op Facebook https://www.facebook.com/nadia.els.921 en Instagram www.instagram.com/nadia76zara/?hl=en.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button