Lekker speelgoed-bederf by Wings of Inspiration
Mej Krugersdorp Melissa Noortman het onlangs by die Wings of Inspiration-huis se kinders gaan kuier om vir hulle bokse vol speelgoed te neem.
Die kinders van die Wings of Inspiration-huis vir vroue en kinders het onlangs ‘n lekker verrassing gekry toe Melissa Noortman, die huidige Mej Krugersdorp vir hulle kratte vol speelgoed gebring het.

Melissa het op Sondag, 3 Julie ‘n bietjie by die huis in Wentworth Park gaan kuier om die speelgoed en teddiebere wat sy vir die kinders ingesamel het af te laai. Sy het vertel dat sy besluit het om die huis te help omdat sy geweet het dat hulle die hulp nodig het. Wat haar opgeval het toe sy die oggend daar aangekom het was dat hulle toe reeds besig was met Bybelstudie.
“Dit was vir my die toppunt van geluk om dit te sien. Wat ook hartseer was is om te hoor hoe baie ma’s en kinders daar in- en uitkom, en wat sukkel.”
Na die besoek het sy besluit dat sy wil probeer om elke maand iets te doen om die huis te help. Sy het vertel dat dit ook lekker was om deur die huis geneem te word en te sien waar die kamers is.

“Toe gaan ons buite toe en deel al die bokse en kratte vol speelgoed uit. Die kinders was so gelukkig om die kratte deur te gaan en al die speelgoed te sien.”
Melissa wil graag hê dat ander mense ook die huis ondersteun omdat dit ‘n huis van veiligheid is vir ma’s en hul kinders wat uit die koue van die strate af kom.
Op 15 Julie gaan sy weer by Wings of Inspiration kuier waartydens hulle ‘n ‘funky kleredag’ gaan hou. Hulle beplan om vir die kinders ‘n partytjie te hou en vir die ma’s ‘n klein presentjie te gee.
Na die besoek het Heidi Harms van Wings of Inspiration vir Melissa ‘n boodskap gestuur om dankie te sê vir haar besoek. Die brief het gesê dat die hoop wat sy aan die klein dogtertjies by die huis gegee het ‘n seën was, en dat sy hulle geleer het om in hulself te glo en hul drome te volg.
