Motorfietsentoesiaste groet gevalle makker
Pastoor Ollie was verbonde aan die West Rand Biker Church.
Honderde motorfietsryers het die afgelope Saterdag 16 Julie by die Sasol-diensstasie in Pinehaven bymekaargekom vir ‘n laaste huldeblyk aan hulle gestorwe makker, Ollie van den Heever.
Van den Heever, 54, was ‘n geliefde pastoor verbonde aan die West Rand Biker Church (WRBC) ten tyde van die tragiese motorfietsongeluk in Voortrekkerweg wat sy lewe op 10 Julie geëis het.
Motorfietsentoesiaste van verskeie klubs het deelgeneem aan die rit ter ere van Ollie. Die eindbestemming was ‘n plaas in Hekpoort waar ‘n informele diens gehou is om sy lewe te vier.

Phillip Prinsloo en sy dogter Danike het al die pad van Bronkhorstspruit af gekom. Phillip en Ollie was klasmaats in Hoërskool Grootfontein in Namibië in 1987. “Ollie was ‘n mense mens, ‘n groot ou met ‘n klein hart. Hy het almal bygestaan,” het Phillip gesê.
Volgens Grant de Jager het hy 10 jaar lank saam met Ollie gekuier.
As jy ware liefde en ‘n vaderhart wou verstaan, moes jy vir Ollie ken. Hy het dit geleef. As jy stukkend was het hy jou gedruk tot jy heel was,” het Grant onthou.
Pastoor Johan Oelofse, ‘n medeleraar by WRBC, het Ollie so onthou. “Hy was ‘n goeie vriend en ons het baie planne saam gemaak vir die Koninkryk van God. Hy was ‘n yster. Hy het altyd gehelp en hy was reguit; jy het geweet waar jy met hom staan.”

Marga Janse van Rensburg het gesê, “Pastoor Ollie, ons gaan jou voorwaar verskriklik mis. Jy was ‘n baie goeie mens met ‘n baie goeie hart. Ons gaan jou mis.”
Volgens Ollie se vrou, Annetjie, was die egpaar se hooffokus die WRBC en in hul vrye tyd het hulle ook aan die hoof gestaan van ‘n sekondêre bediening, Touching Africa Ministeries. Die bediening het sonder skroom gehelp waar hulle ook al behoefte geïdentifiseer het.
“As daar mense is wat graag Ollie se nalatenskap wil laat voorleef kan hulle die Touching Africa-bediening ondersteun,” het Annetjie gevra.

Die bediening is ‘n niewinsgewende organisasie (152-680NPO) en die bankkbesonderhede is as volg:
Bank: Absa
Rekeninghouer: Touching Africa Ministeries
Rekeningnommer: 408 720 1697
Bankkode: 632 005
Vir meer besonderhede oor die bediening besoek touchingafrica.co.za.



