Local newsNews

LUISTER na Marisa se eerste kortspeelplaat

Plaaslike sanger Marisa Odendaal wil graag die lirieke wat op haar hart lê met haar luisteraars deel en hoop dat dit hulle sal bemoedig.

Plaaslike sanger, Marisa Odendaal vertel dat sy nie elke dag daar kan wees om almal te bemoedig nie maar sy hoop dat haar musiek iets vir iemand anders kan beteken, dalk net hul lewe verander …

Na nog net twee jaar in die musiekbedryf is die sanger behoorlik aan die wikkel. Sy het onlangs haar nuwe liedjie Alles vir jou bekendgestel.

Die lied sal deel vorm van haar kortspeelplaat waarop van haar ander liedjies soos Pienk, Mooi, Bosveld Liefde, Altyd Daar en Plaasmeisiekind ook sal wees.

Die kortspeelplaat volg op die reuse sukses van haar debuutenkelsnit, Plaasmeisiekind. Die spontane blondine het vertel dat sy nog altyd ‘n sangeres wou word, ‘n droom wat sy uiteindelik op die ouderdom van 37 kon verwesenlik.

“Alles vir jou was die heel eerste liedjie wat ek geskryf het en ook die inspirasie vir die album,” het sy vertel. Sy het verduidelik dat God die lirieke een middag op haar hart kom graveer het toe sy op moedverloor se vlakte was.

“Ek het dit in my binneste gehoor en besef ek moet dit neerskryf, en so is die lied gebore. Die Here het dit alles vir my gedoen en daarom wil ek Hom al die eer gee met hierdie album.”

Die ses snitte op die kortspeelplaat toon Marisa se talent as musikant en liedjieskrywer. Die liedjies kom uit haar eie pen en is deur Hansie Roodt getoonset en deur Tjaart van der Walt vervaardig.

“Elke lied vertel ‘n storie, leer ‘n les, gee nuwe moed en gee jou siel onvoorwaardelike hoop. Dis ‘n lekkerluister-vrystelling, wat vrolike dansmusiek kombineer met dieper snitte wat met die hart praat,” het sy verduidelik.

Sy wil nie graag ‘n gunsteling uitsonder nie maar glo dat Pienk die potensiaal het om ‘n baie groot treffer te word.

“Die lied lê my na aan die hart omdat dit so ‘n mooi betekenis het. Ek glo elke vrou op aarde het iets spesiaal binne haar wat die moeite werd is om raak te sien. As ons werklik moeite doen om die hart van die vroue rondom ons te verstaan sonder om te oordeel, sal die wêreld ‘n beter plek wees. Pienk herinner ons om eers te dink voordat ons praat, om mooi te luister, en met oë vol genade na ander te kyk.”

Buiten in die kerk se orkes het Marisa ook al by verskeie ander geleenthede en funksies opgetree. Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ‘n voltydse tuisteskepper, vrou en ma van twee. Sy hou ook so nou en dan haar lyf grafiese ontwerper waar nodig.

Marisa erken dat sy haar hart op haar mou dra en met Alles Vir Jou hoop sy om ‘n blywende impak op luisteraars se lewens te hê.

“My geheim is om te wag vir God om die regte woorde en melodieë oor my pad te bring, en te vra dat dit op die regte ore sal val,” het sy gesê.”

Jy kan Marisa volg op sosiale media op haar Facebook-blad Marisa Plaasmeisiekind of op Instagram by @Marisa_Plaasmeisiekind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button