Meer as 20 brandkrane getoets
Na twee onlangs huisbrande in die Oatlands-area het 'n span van 28 lede besluit om seker te maak brandkrane en straat-tekens werk.
AfriForum Krugersdorp het onlangs weer hul naweek opgeoffer om seker te maak dat Krugersdorp ‘n beter plek is. Na ‘n baie suksesvolle slaggat-projek het hulle die keer besluit om brandkrane en verkeerstekens in die Oatlands-area reg te maak.
Op 1 Julie is die gemeenskap genooi om die span te gaan help om identifikasie-inspeksie en die herstel van brandkrane te gaan doen. Hul fokus was om die brandkrane duidelik te maak indien ‘n noodgeval ontstaan.

In ‘n verklaring het hulle verduidelik dat twee huise in die Oatlands-area onlangs afgebrand het juis omdat die brandkrane nie duidelik gemerk was nie. Die span het 08:00 weggespring en 28 lede het gehelp tot 15:00 Saterdagmiddag.
“Dit is van uiterste belang dat brandkrane ten alle tye in ’n werkende toestand en duidelik sigbaar moet wees. Dít beteken dat brandkrane maklik toeganklik is, dat daar watertoevoer is, asook dat die korrekte koppelings in plek is. Tye wanneer daar nie brande is nie behoort brandkrane nagegaan te word om te verseker dat die brandweer hul werk doeltreffend in ’n noodsituasie kan verrig,” het AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand Stephanus Blignault gesê.

In ‘n boodskap wat deur die AfriForum span uitgestuur is het hulle gesê dat hulle graag hul dank wil uitspreek aan raadslid Trudie Malan Naude en Raadslid Aloysha Baarkley Jooste vir hul deelname en ondersteuning tydens die projek.
Hulle het ook John’s Paint bedank wat benodighede vir die projek voorsien het asook Krugersdorp se brandweer (Stasie 38) vir hulle hulp. Hulle het ook vir Dale Mac Rae, Mitch Mac Rae, Charl Oosthuizen en Annge Oosthuizen van die Brandweer Reserviste by Krugersdorp Brandweerstasie bedank.

“Hulle het nie net bygedra tot die sukses van die projek nie, maar het ook ‘n beduidende rol gespeel in die toetsing van 23 brandkrane, waarvan vyf aangemeld is vir verdere aandag deur die munisipaliteit.
“Ons is verheug oor die gemeenskap se betrokkenheid en vasberadenheid om ons omgewing veiliger te maak. Die sukses van hierdie projek is ‘n ware weerspieëling van ons gemeenskapsgees en ons vermoë om saam te werk vir ‘n gemeensame doel.”

