Een van die belangrikste besluite wat ouers moet neem, is om die regte kleuterskool of dagsorg vir hul geliefde kind te kies.
Henri Smith, hoof en eienaar van Clearview Kleuterskool/ Nursery School, verseker die gemeenskap dat hulle dié opvoedkundige instelling is waar kleuters hul akademiese reis op ’n stewige grondslag kan begin.
Hy verduidelik dat Clearview in 2007 gestig is en in 2012 deur hom oorgeneem is. In 2023 het die skool van Clearview Estate South geskuif na hul huidige perseel te Bodensteinstraat 71 in Krugersdorp-Noord.
Volgens Henri beskik hulle oor meer as 10 jaar se ondervinding in die kleuterskoolbedryf, met ’n diep liefde vir die ontwikkeling van kinders in hul vormingsjare.
“By Clearview is ons een groot familie. Almal is vir ons belangrik en kosbaar. Ons bied ’n unieke leerervaring wat maak dat ons maatjies vinnig leer. Omdat die grootste gedeelte van ’n kind se vroeë ontwikkeling in die kleuterskool plaasvind, sorg ons dat ’n stewige grondslag gelê word. Die liefde vir leer wat ons kweek, maak hul toekomstige leerervaring meer aangenaam,” sê hy.

Die skool het tans 31 leerders en ’n kapasiteit vir 73. Henri noem dat hulle goed toegerus is, by die Departement van Basiese Onderwys geregistreer is, en ook lid is van die SA Child Care Association. Verder gebruik die skool drie kurrikulumverskaffers wat aan die Curriculum Assessment Policy Statements (CAPS) -vereistes voldoen.
“Deur die beste van elke kurrikulumverskaffer saam te voeg, lewer ons ’n produk wat met enige ander kan meeding,” sê Henri.
Die eerste groep kinders wat as babas by Clearview begin het, het in 2024 hul matriekjaar voltooi.

“Ons is ook geregistreer as ’n tutor en bied praktiese landbou-opleiding aan vir leerders in Landboubestuurspraktyk, vir tuisskoolleerders in graad 10 tot 12,” voeg hy by.
Die skool bied verskeie buitemuurse aktiwiteite aan, insluitend Monkeynastics, Fun and Fit en Abacus-wiskunde. Ander ekstra aktiwiteite sluit in kinderlandbou, Number Ninjas-wiskunde, Little Challengers-wetenskap en Robot Rangers-tegnologie.
Henri sê ’n dieetkundige het hul spyskaart goedgekeur, wat ontbyt en gekookte middagetes met groente insluit.

Die weeklikse program is propvol aktiwiteite soos poppekas, Haas Das se Nuuskas, storievertelling, sang en bak-en-brou.
“Ons het ’n groot speelterrein met klimrame, ’n sandput en ’n fietsrybaan. Dit is ’n veilige, rustige en huislike leeromgewing waar kinders met liefde en aandag versorg word,” sê Henri.

Leerders kan hul hele kleuterskoolloopbaan – van babaklas tot graad R – by Clearview voltooi sonder onderbreking van skoolveranderinge. Henri glo dit help kinders om met selfvertroue graad een aan te pak.

Hy sien uit na die toekoms van Clearview Akademie, wat hulle beoog om te stig. Sodra dit geregistreer is, beplan hulle om die deure in 2027 oop te maak.

Indien jy jou kind wil inskryf, kontak die kantoor by 079 326 0994, Henri by 082 825 0503 of stuur ’n e-pos na clearviewnurseryschool@gmail.com.
