Local news

Lugvaartdag by Jack Taylor lok groot belangstelling

Presisie eerder as spoed was die sleutel tydens die jaarlikse Fun Rally, waar vlieëniers hul vernuf in die Delporton-lugruim ten toon gestel het.

Presisie was aan die orde van die dag toe die Krugersdorp Vliegklub op 27 Junie sy jaarlikse Fun Rally by die Jack Taylor-vliegveld aangebied het.

Volgens die klub se voorsitter, Morné Nel, voltooi deelnemers twee rondtes van ‘n voorafbepaalde roete en voorspel vooraf hoe lank dit hulle sal neem.

Louis Fourie op pad om te vlieg. Foto: Heinrich Greyling

“Voor die aanvang van die dag gee elke deelnemer ‘n geskatte tyd deur waarbinne hulle die twee rondtes verwag om te voltooi. Elke vliegtuig word ook aan ‘n tydhouer toegeken wat die vlugtyd noukeurig monitor. Ná afloop van die vlugte word die werklike tyd met die vooraf opgegewe tyd vergelyk. Die deelnemer wie se werklike tyd die naaste aan sy of haar voorspelde tyd is, word as die wenner aangewys.”

Besoekers het die verskillende vliegtuie van naby besigtig en die deelnemers se presisie en vliegvernuf waardeer. Foto: Heinrich Greyling

Hy het verduidelik dat die kompetisie nie daaroor gaan om die vinnigste te vlieg nie, maar om jou spoed en roete so akkuraat moontlik te handhaaf.

“As jy byvoorbeeld te vroeg begin draai, sal jy tyd verloor en verder van jou voorspelde tyd eindig.”

Dieter en Karl Böck voor hul opgestyg het. Foto: Heinrich Greyling

Dr Nicolas Clark het die kompetisie gewen nadat sy werklike tyd slegs vier sekondes van sy voorspelling afgewyk het. Francois Tolmay was tweede met ‘n verskil van vyf sekondes, terwyl Johann Nel derde geëindig het met ‘n afwyking van 10 sekondes.

“Dit wys hoe akkuraat en mededingend die deelnemers gevlieg het,” sê Morné.

Volgens hom is die Fun Rally ‘n jaarlikse geleentheid wat algemene lugvaart bevorder, vlieëniers aanmoedig om meer te vlieg en die publiek nader aan die lugvaartgemeenskap bring.

“Dit is ook ons manier om die publiek welkom te laat voel by die vliegveld en hulle die geleentheid te gee om die dag saam met lugvaartentoesiaste en vlieëniers te geniet. Op hierdie manier bou ons ‘n sterk gemeenskap rondom lugvaart en skep ons ‘n ervaring wat vir almal toeganklik en genotvol is.”

’n Vliegtuig in vlug. Foto: Heinrich Greyling

Die dag het ook ‘n groot aantal toeskouers gelok wat die vliegtuie van naby kon besigtig en die vlieëniers se presisie kon bewonder.

“Dit het vir groot belangstelling gesorg en aan besoekers ‘n unieke geleentheid gebied om die lugvaartgemeenskap van nader te leer ken. Die hoogtepunt van die dag was die gesellige atmosfeer wat deurgaans geheers het. Besoekers kon die verskeidenheid vliegtuie bewonder, met vlieëniers en mede-lugvaartentoesiaste gesels, die kosstalletjies geniet en ontspan met die musiek wat die dag verder opgevrolik het.

“Dit was ‘n aangename dag uit vir die hele gesin en ‘n uitstekende geleentheid om mense met ‘n gedeelde passie vir lugvaart bymekaar te bring. Ondanks die koue winterweer was die opkoms uitstekend, en die dag is deur deelnemers en toeskouers as ‘n groot sukses ervaar.

“Die dag het natuurlik om die vliegtuie en die passie vir lugvaart gedraai. Nie net het die deelnemers die geleentheid terdeë geniet nie, maar ook almal wat die dag saam met ons kom beleef het,” sluit hy af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button