Man met mes gedreig, van fiets beroof
Martin Olkers se fiets is onder hom uit gesteel terwyl hy op 'n oefenrit was. Nou het hy 'n beloning vir die een wat hom kan help om dit terug te kry.
Martin Olkers se fiets was meer as net ‘n oefenfiets vir hom, dit was ook sy brood-en-botter waarmee hy talle werkies verrig het. Hy het lank gespaar om vir homself dié fiets te kan koop, maar verlede maand is sy trots van hom af weggeneem.
Die 28-jarige Olkers het die News vertel hoe hy op Donderdag, 2 Februarie by ‘n verkeerslig in Luipaardstraat gestaan en wag het om oor te ry voordat hy van sy fiets beroof is. Dit was ‘n roete wat hy bykans 25 keer ‘n maand gery het vir oefening, maar terwyl hy op daardie spesifieke dag vir die groenlig gewag het, het twee mans ander planne gehad.
“Die een het van my linkerkant af gekom en die ander van my regterkant,” het hy vertel.
Toe hulle by hom kom het die man aan sy linkerkant ‘n mes gehad wat hy teen Olkers se sy gedruk het. Olkers het toe vertel dat hy nie kon beweeg nie want hy was oortuig as die man die mes in hom sou steek, sal dit sy hart tref.
Ek het net gedink ek kan nie reageer nie want die mes was teen my ribbes. Hulle het vir my soos ervare rowers voorgekom en geweet wat hulle doen.”
Die twee mans het Olkers se fiets en ‘n liggie gevat wat hy voor aan sy fiets gebruik het as hy in die aande ry. Hy het vertel dat hulle ook geld van hom geëis het, maar dat hy nie die geld oorhandig het nie.
Vir Olkers was die fiets ook sy vervoermiddel vir wanneer hy ‘n werkie gekry het om te gaan doen omdat hy nie nou werk het nie. Hy het die saak by die polisie aangemeld en is blykbaar gebel om een van die mans te gaan uitken. Hy het aan die News vertel dat nadat hy die een man positief geïdentifiseer het, het die polisie teruggekom na hom en gesê dat dit nie dieselfde man was nie.
Vandat hy die saak oopgemaak het, het nog niks verder daarvan gekom nie, maar hy het al wel by gemeenskapslede gehoor dat hulle iemand in die dorp op sy fiets sien ry het.
Hy wil graag die gemeenskap vra om vorentoe te kom indien hulle sy fiets gewaar het. Hy selfs ‘n R2 000 beloning vir die persoon wat hom kan help om sy fiets suksesvol terug te kry. Die fiets is ‘n Scott Scale Expert 29 2012 model.
Indien jy inligting het oor die fiets kan jy die Krugersdorp-speurtak skakel op 011 951 1131 en vra om met Nicolene Mckie te gesels.
