Tyd staan stil na wrede ongeluk geliefde Hendrik se lewe eis
Familie wil hê die persoon verantwoordelik moet boet byna twee jaar nadat hul geliefde Hendrik Cornellesen asook twee ander se lewens geneem is.
Vir die Cornellesens voel dit soos gister wat hulle hul seun Hendrik verloor het. Maar die ongeluk wat sy lewe geëis het, het byna twee jaar gelede gebeur. Die familie wil wel hê dat die persoon verantwoordelik moet boet vir sy dade.

Hendrik, 34, is op 25 Junie 2021 oorlede na ‘n bestuurder beheer oor sy voertuig verloor het en in stilstaande voertuie wat voor die Witpoortjie Hotel geparkeer was, vasgery het. Die impak van die ongeluk het veroorsaak dat Hendrik, en twee ander wie voor die hotel se ingang gestaan en gesels het, deur ‘n winkeldeur en muur geslinger is. Hendrik het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Lees ook: Arno sterf dae ná gru-ongeluk in Pinehaven
Hy en sy familie het in die hotel gewoon en het net na 18:00 die aand by die hotel aangekom. Hendrik het buite gestaan terwyl sy familie na die kamer is. Kolonel Booysen het destyds aan die News bevestig dat die bestuurder gearresteer is maar is weer op borgtog vrygelaat. Sy het ook gesê dat ‘n klagte van dronkbestuur en manslag aanhangig gemaak is.
Dit was twee jaar gelede en die Cornellesen-familie wat die stukke moet optel na hul kind se dood vertel dat hulle net geregtigheid wil hê. Hendrik se twee dogters het na die ongeluk by hul ouma Ellie en oupa Pieter gaan bly.

Ten tyde van die ongeluk het Hendrik na al vier sy kinders omgesien.
“Ons hele lewe het verander na die ongeluk. Ek kan nie slaap nie, ek bly sy gesig voor my sien. Ons kon nie totsiens sê nie, dit was alles ‘n skok. Hy sou die jaar 36 geword het,” het ‘n hartseer Ellie vertel.
Sy het vertel dat Hendrik, wie haar oudste was, as kind vriendelik en grapperig was.
Lees ook: Rus sag Nevin Jacobs – Pinehaven vragmotorongeluk slagoffer
Pieter het vertel dat hy net voor die ongeluk blykbaar besig was om sy laaste R10 vir iemand te gee toe hy getref is.
“Dit is die tipe mens wie hy was. Hy het met almal oor die weggekom. Dit vreet my op dat daar niks gebeur nie,” het hy gesê.
Ellie het gesê dat as hulle so sukkel om hul seun se dood te verwerk weet hulle nie eers waardeer die kinders moet gaan nie.
Sy het bygevoeg dat Hendrik se boetie en sussie, Lizelle, nie eers meer daardie pad ry nie omdat dit vir hulle te erg is. Hendrik was volgens sy familie ‘n baie goeie pa wat sy kinders bitter lief gehad het en selfs vir elke kind ‘n ander bynaam gehad het.
“Hy rus nou, hy is by God,” het Ellie gesê.
Die familie wou weet waar die saak op die stadium staan. Die News het uitgereik na die Krugersdorp-polisie se Kaptein Raymond Sebonyane wat bevestig het dat die saak steeds ondersoek word terwyl Thalitha de Jong, spesialisondersoeker vir AfriForum se privaat vervolgingseenheid deur die familie aangestel is om die saak op te volg.
Sy het aan die News vertel dat Lizelle hulle in Julie 2022 genader het vir hulp en sedertdien monitor hulle die polisie-ondersoek. Hulle is wel tevrede dat die ondersoek die nodige aandag kry wat dit verdien.
“Verskeie uitstaande aspekte was deur ons geïdentifiseer en die polisie het intussen aan al die aspekte aandag gegee. Daar word beweer dat die beskuldigde onder die invloed van alkohol was tydens die insident en gevolglik was ’n bloedmonster geneem om sy bloedalkoholvlak te bepaal. Weens die agterstand by die forensiese laboratorium is die uitslag nog nie bekend nie.”
Sy het ook verduidelik dat hulle in kontak is met die aanklaer in die Krugersdorp-hof en die saak sal weer op die rol geplaas word sodra die verslag oor die bloedalkoholvlak ontvang word.
In die tussentyd staan die lewe stil vir die familie wat steeds elke dag na Hendrik verlang.
