Na amper ‘n jaar lewe Breaunanda-familie steeds in vrees
In Junie 2022 is die 'n man en vrou tesame met die huishulp in hul huis deur vier rowers aangehou en amper 'n jaar later lewe hul in steeds in vrees omdat die rowers weer op vrye voet is.
In dieselfde huis waar Annamarie Ferreira, hul huishulp en Johan Geyer aangehou is, sit hulle en vertel hoe die boewe wat hul rustige lewe tot op die randjie van verwoesting gehad het, nou vrygelaat is om hul moontlik weer te kom tuister.
• Lees ook: Man met mes gedreig, van fiets beroof
Dit was ‘n gewone dag in Junie 2022. Ferreira en Geyer was saam met die huishulp by hul huis in Breaunanda. Geyer is net ontslaan na ‘n knievervanging. Die huishulp was doenig in die kombuis en Ferreira het in die sitkamer gewerk. Om en by 14:20 het die huishulp vier gewapende mans in hul huis aangetref. Hulle het vir haar gewys sy moet stilbly en vir haar gevra hoeveel mense in die huis is. Nadat sy vir hulle gesê het dit is net hulle drie, het die mans die twee vrouens in die kamer vasgemaak.
Ferreira vertel dat hulle vir die 86-jarige Geyer wou vasmaak, maar hy het geweier. Hulle het hom toe op die grond laat lê en hom met die geweer op die kop geslaan voordat hulle deur al die laaie gegaan het.
‘n Seun wat oorkant hulle bly het die klomp sien oor die muur spring en het dadelik onraad vermoed. Hy het dadelik die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in kennis gestel.
Na ‘n ruk het Ferreira gehoor alles is stil en vertel dat sy haar gewrigte van mekaar af weg gehou terwyl hulle haar vasgemaak het en kon haarself maklik bevry. Sy het opgestaan en die kamerdeur oopgemaak en vir Geyer gevra om die huishulp los te maak. Toe sy buite kom het sy al die GPF en sekuriteitsvoertuie gesien.

Die GPF het die huis deursoek en seker gemaak die rowers is weg. Volgens haar het van hulle weer oor die muur gespring en in ‘n wit motor weggejaag, maar een het egter oor die agterste muur gespring waar ‘n Help24-lid hom langs die pad opgetel het terwyl hy besig was om van sy klere ontslae te raak.
Die rowers is weg met tablet en ‘n kragbank. Daar is beeldmateriaal van die mans wat oor die muur gespring het en is aan die polisie verskaf. Die familie is al ‘n geruime tyd deel van die GPF en Roodekrans Neighbourhood Watch maar daardie dag was hulle radio’s nie by hulle nie. Deesdae loop Ferreire met die radio in haar hand rond.
Mense verstaan nie die trauma waardeur jy gaan nie. Ek slaap nie meer in die nag nie. Ek het altyd, as ek van so iets gehoor het, gedink ‘ai die arme mense’. Maar jy weet nie waardeur hulle gaan tot dit met jou gebeur nie,” het Ferreira gesê.
Na die voorval het die man wat gevang is sy makkers aan die polisie uitgewys en nog twee is gearresteer. Daarna is Ferreira en Geyer op drie geleenthede gevra om hulle te kom uitken, maar elke keer val iets voor.
Op 27 September 2022 het die hofsaak begin en teen Oktober beweer Geyer dat ‘n kaptein vir hom vertel het dat een van die rowers gesoek word vir ander oortredings. Hulle is gevra om eerder nie die hofsaak by te woon nie aangesien die rowers uiters gevaarlik is. Daarna het Ferreira vertel die saak is herhaaldelik uitgestel en op 5 Mei 2023 is dit teruggetrek as gevolg van te min bewyse.
Die familie wil weet hoe dit moontlik is aangesien die polisie die getuienis van die seun, die beelmateriaal, ‘n erkenning en die tablet as bewyse gehad het.
Annamarie het verduidelik hulle werk nog deur die trauma en dat sy vreeslik bang is dat die rowers gaan terugkom nou dat hulle vrygelaat is.
Die Krugersdorp News het vir Kaptein Raymond Sebonyane gevra oor die saak en hy het bevestig dat dit teruggetrek is deur die senior staatsaanklaer omdat daar nie genoeg bewyse teen die beskuldiges is nie.
