‘Krugersdorp Jacuzzi’ veroorsaak strukturele skade
’n Jarelange waterlek op ’n sypaadjie in die middedorp mors nie net water nie, maar bedreig ook die strukture van ’n woonstelblok vir bejaardes.
Bejaarde inwoners van die Van Riebeeck-woonstelle is gefrustreerd oor ’n waterlek op die sypaadjie wat al jare lank water mors.
Hierdie lek is nie nuut nie; die Krugersdorp News het reeds vroeër daaroor berig.
Inwoner Petrus Swanepoel is bekommerd dat die lek die fondasie van die woonstelle verswak. Hy het die News gewys op talle krake langs die gebou en gesê dit lyk asof ’n gedeelte daarvan afsak. Hy het bygevoeg dat dit vogprobleme in die woonstel veroorsaak het en dat hulle hul vloer moes oordoen.
• Lees ook: Van Riebeeck-woonstelle bejaardes sonder water, krag en hoop
Wykraadslid Mark Trump meen dit is ’n voorbeeld van ’n groter patroon van munisipale nalatigheid wat onmiddellike aandag verg, aangesien die probleem reeds einde 2023 gerapporteer is.

Hy noem die lek die “Krugersdorp Jacuzzi”, omdat dit so groot soos een is. Volgens hom het dit, wat as ’n eenvoudige vermorsing van water begin het, intussen ernstige strukturele skade aan ’n aangrensende eiendom (wat, sê hy, aan die munisipaliteit behoort) veroorsaak.
“Die deurlopende waterstroom het glo die gebou se fondasie verswak, wat gelei het tot insinking, krake, ernstige vogprobleme, vloerbeskadiging en gevaarlike leefomstandighede vir inwoners,” sê Trump.

Benewens die skade is hy ook bekommerd oor die groot geld wat vermors word deur hierdie en soortgelyke lekke in die middedorp, terwyl die munisipaliteit ten volle befonds is om dit reg te maak.
Die News het Mogale City Plaaslike Munisipaliteit om kommentaar genader. Terugvoer sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.
