Local newsUpdate

Nou kan Zani weer asem haal

Danksy fondsinsamelings kon Zani Brits wat aan sistiese fibrose ly se familie vir haar medikasie in Argentinië gaan haal.

Soms laat een diep asemteug mens sommer ontspan en beter voel, maar dit was lank vir Zani Brits wat aan sistiese fibrose (SF) ly nie moontlik om net daardie asemteug te neem nie. Danksy die goedhartige gemeenskap van Krugersdorp kan Zani nou meer doen as makliker asemhaal.

Lees ook: Siekte kry Zani nie onder

Danksy fondsinsamelings kon Zani se familie vir haar ‘n nuwe soort medikasie, Trixacar kry nadat dokters vir haar gesê het dat daar geen ander medikasie in Suid-Afrika beskikbaar is wat haar kon help nie. Die medikasie kos egter R60 000 per boks en moet in Argentinië gaan haal word.

Haar man Hennie Brits het op 29 Mei vir Zani drie maande se voorraad in Argentinië gaan haal, en op 7 Junie kon sy uiteindelik die wondermiddel begin gebruik – medisyne wat Zani se lewe verander het.

Goed wat vir my nou weer normaal en maklik voel is vir ander mense alledaags; soos om my eie hare te was en droog te blaas, vinnig by die winkel in te draf vir brood en melk, en na ‘n lang dag te kan kosmaak sonder dat ek myself uitput. Voorheen het dit gevoel of ek die Comrades hardloop.”

Sy het op 7 Junie vir die laaste keer haar suurstofmasjien gebruik – ‘n masjien wat sy elke nag moes gebruik terwyl sy slaap, of deur die dag net om asem te kry.

Lees ook: Kennies-kleuters ondersteun SF-lyer

“Voor ek die medikasie begin gebruik het, het ek elke dag al my asmapompies en nebuliseerders oral saamgedra omdat ek bang was ek word benoud. Ek moes dit telkemale gebruik, of eerder huis toe gaan om my suurstof te gebruik.”

Zani Brits net voordat sy met die nuwe medikasie begin het.

In Februarie was Zani se longfunksie 28%,en in Mei kon sy nie eers die toets doen nie omdat sy te swak was. Die oggend voor sy die Trixacar begin gebruik het was haar longfunksie 46% en na ses weke op die medikasie was dit 53%. Daar is ‘n 93%-verbetering sedert Februarie.

Lees ook: SF-lyer lê Kennies na aan die hart

Een van Zani se grootste begeertes was om haar suster se troue te kon geniet en met haar man te dans. Danksy die medisyne kon sy die aand op die dansvloer deurbring.

Die troue was ongelooflik lekker. Om daar te kon wees sonder om langs die kantlyn te staan en kyk, ‘n toespraak te lewer en die aand op die dansvloer te geniet sonder pompies en suurstof was iets wat ek vir altyd sal koester.”

Op tweejarige ouderdom het dokters vir Zani se ouers gesê dat sy nie haar agtiende verjaarsdag sal beleef nie, maar sy het onlangs haar 35ste gevier.

“Ek het my eerste verjaarsdag op die nuwe medikasie gevier en dit was omtrent ‘n celebration – halfpad 70 toe. Ek is dankbaar dat ek vir nog ‘n jaar gespaar is.”

Hennie en Zani Brits.

Na drie maande kan hulle die medikasie begin rek en ‘n vriend wat vir sy suster medikasie gaan haal het kon vir Zani nog twee bokse terugbring. Sy het vertel dat dit steeds ‘n bekommernis is waar die geld vir die volgende voorraad vandaan sal kom. Hulle beplan om eers weer in Februarie volgende jaar nog te gaan haal.

Ongelukkig maak hierdie medisyne mens nie gesond nie, maar dit maak elke dag makliker; so ja, dit is iets wat ek vir altyd sal moet gebruik.”

Wat fondsinsameling betref probeer hulle nou om 50 of meer mense te kry wat elke maand R50 tot R100 kan skenk deur middel van ‘n debietorder.

“En ons vra regtig as daar iemand is wat op enige manier kan help met finansiële bydraes of met fondsinsamelings sal ons dit uit ons harte waardeer. Om hierdie medisyne te kan gebruik is regtig ‘n gebed wat besig is om verhoor te word. Die trust is gestig met die oog daarop dat ek die medikasie kon kry, maar ook dat ons in die toekoms moontlik nog ‘n SF-pasiënt met die medikasie kan seën.”

Zani het vertel hoe dankbaar sy jeens haar familie is. Sy kan deesdae op meer as een liedjie dans, uit haar maag lag sonder om te hoes, 30 minute se CrossFit doen, plat lê, snags deurslaap en haar dagtake verrig.

Ek wil net ‘n groot dankie sê aan elkeen wat gehelp het om my die medikasie te laat kry. Sonder julle hulp sou dit nie so gou kon gebeur het nie. Dit het rêrig my lewe verander. Mag ek elke dag vir iemand anders ‘n stukkie hoop wees. Ek bly vir ewig dankbaar.”

Jy kan Zani se webtuiste besoek by www.lungs4zani.co.za om meer van die siekte, haar pad daarmee en die medikasie te wete te kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button